SUID-AFRIKA. – Wys jou ondersteuning vir vryheid van spraak in Suid-Afrika. Só vra Renaldo Gouws, ’n You Tub-vlogger wat op politiek in die land fokus.
Dit volg nadat Barry Bateman, ’n joernalis van Eyewitness News (EWN), na bewering gesê het Julius Malema is ’n p***.
Perskonferensie
Die insident het op 10 September gebeur, reg nadat Malema deur lede van die media ondervra is oor ’n klag wat teen hom gelê kan word omdat hy glo ’n vuurwapen in ’n openbare area gebruik het.
Kamera’s reeds af
Direk daarna, nadat die kameras veronderstel was om af te wees, kan jy op die video sien Bateman pak sy toerusting weg en sê dan “p***”.
’n Herrie het ontstaan nadat dié video gedeel is en die EFF aangedring het op ’n verskoning vanaf Bateman en EWN.
Ondersteun Bateman
Gouws het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om Batemen te ondersteun. “Malema het weereens ’n dreigement aan 4 miljoen Suid-Afrikaners gemaak. Dit word nie gesê nie, maar op sosiale media word net berig oor wat die joernalis gesê het.”
Verskoning aangebied
EWN het Bateman intussen van die lug afgehaal en verskoning vir die EFF aangebied. Die EFF het nie die verskoning aanvaar nie.
Gouws sê in sy video EWN behoort hulle te skaam, omdat joernaliste ondersteun moet word.
“Hy is geregtig om te sê net wat hy dink. Ons woon in ’n Suid-Afrika waar politikusse kan sê net wat hulle wil. Hulle kan dreigemente maak aan (minderheidsgroepe), maar as ’n joernalis sê wat almal dink, dan word hy aangeval.”
Hy het gevra dat Suid-Afrikaners opstaan vir vryheid van spraak en die hutsmerke #BarryBateman #HandsOffBarry #EWN gebruik om hulle ondersteuning aan Bateman te gee.
Kyk Gouws se video hier:



