Skoolgronde deur leerder opgehelder

Foto: Jamienca Botha

KIMBERLEY. – ’n Gr. 4-leerling aan die Elizabeth Conradie-skool het die skoolterrein opgehelder as deel van haar gemeenskapsprojek.

Jamienca Botha het onderneem om die speelgrond van die intermediêre fase van die Elizabeth Conradie-skool as deel van ‘n gemeenskapsprojek van haar modelskool te verfraai.

Haar projek

Martha van Zyl, onderhoof van dié skool, sê Jamienca het al gedurende die Junie-vakansie met die projek begin. “Zimarie de Wet, nog ’n modelletjie, het die bande begin verf. Hulle het ook die ouers van die gr. 4, 5 en 6-klasse betrek. Haar projek het nou vlerkies gekry.”

Sy het ook buitebande, wat sal dien as sitplekke vir die kinders, “geplant” en geverf. “Leerders van gr. 5 het ook ywerig kom help verf.” Ouers het ook houttolle gebring wat as tafels gaan dien.

Herwinbare materiaal

“’n Musiekmuur van herwinbare materiaal is ook opgerig. Die verf van hopscotch-blokke, ’n netbalbaan, wiskunde-wurms en ’n skaakbord en skaakstel, wat ook uit herwinbare materiaal gemaak gaan word, word ook beplan,” sê Van Zyl.

Raak betrokke

“Ons nooi oud-skoliere en ondersteuners van ELCON hartlik uit om betrokke te raak by hierdie pragtige projek. Ons benodig baie verf en verfkwaste. Die ouers hoop ook om mettertyd die relings langs die paadjies te vervang.

Pragtige speelgrond

“Dikwels begin die pad na sukses met kinderspore. Kom ons help Jamienca om haar droom van ‘n kleurvolle en pragtige speelgrond, geskik vir al die leerders, te vervul,” versoek Van Zyl.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: