Die héél eerste Mnr. en Mej. Noord-Kaap

KIMBERLEY. – Die heel eerste Mnr. en Mej. Noord-Kaap 2020 is die naweek aangekondig. Hulle is Chaunees Abbott (19) en Mario Neels (23).

Hierdie kompetisie is in die hartjie van die Noord-Kaap, by Horseshoe Inn in Kimberley met 26 deelnemers gehou. Dié deelnemers kom van Kimberley, Galeshewe, Bloemfontein en Kathu.

Chaunees Abbott

Chaunees is ’n tweedejaar BEd-student aan die Sol Plaatje-universiteit. Sy het al aan verskeie modeparades deelgeneem en het al ’n paar bekronings ontvang. Hierdie jaar het sy plasings gekry by Mej. Groenmyn 2019, Mej. Voorslag 2019, Miss Golden SA 2019 en Miss Black Ribbon 2019. Sy was ook deel van die Noord-Kaap Fusion-naweek wat vroeër vanjaar plaasgevind het. By die amptelike Mnr. en Mej. Noord-Kaap het sy ook die toekenning op sosiale media, die Public Choice-toekenning en die Debutant Products-toekenning gewen.

“Ek sien uit na my regerende jaar en is so opgewonde oor alles wat voorlê. Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg. Ek hoop om ander jongmense te inspireer deur ‘n merkie in hulle lewens aan die einde van my reis te laat. Onthou altyd dat alles moontlik is as jy in jouself glo,” sê Chaunees.

Mario Neels

Mario (23) het film- en televisieproduksie studeer. Hy beklee die eerste plek in die J-Walkers-toernooi 2019, is die eerste prins by die Nocci Mr Business-toneelkuns 2019 en werk deeltyds as ‘n koördineerder van konferensies en funksies by Horseshoe Inn, Kimberley. By die amptelike Mnr. en Mej. Noord-Kaap het hy ook die beste in sy onderhoud gevaar.

“Ek is bevoorreg vir hierdie geleentheid wat deur God gegee word en kan nie wag vir die reis wat voorlê nie,” sê Mario.

Groot sukses

Mandy de Klerk, eienaar van die Mr and Miss Northern Cape Pageant PTY LTD, het gesê die eerste kompetisie was ’n groot sukses en dat die wenners reeds ‘n vol skedule het wat vir hulle wag.

“Ons help hulle met die organisering van hulle kalender, maar neem ook inisiatief om hulle eie geleenthede en liefdadigheidsorganisasies te organiseer,” sê sy. “Albei hierdie wenners is toegewyde, harde werkers wat hierdie titels met grasie en toewyding opneem.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: