JACOBSDAL – Die tuinier (40) en nog ’n verdagte wat gister ’n 78-jarige vrou by haar huis in Jacobsdal aangeval het, is volgens die polisie in hegtenis geneem.
Mev. Maria Hunter (78), die slagoffer, is na bewering deur twee mans, haar tuinier en nog ’n onbekende verdagte, by haar huis op Jacobsdal oorval en aangerand. Sy is in die Gariep Medi-Clinic in Kimberley opgeneem. Lees ons vorige berig, Gebede red bejaarde se lewe.
Tuinier loop in winkels of niks gebeur het nie
Clivé Burger sê haar ma, wat ’n goeie vriendin van Hunter is, het die tuinier wat vir die huisaanval gesoek word, op die dorp gesien.
Hy het by ’n winkel uitgeloop of daar niks gebeur het nie. Burger sê haar ma het hom nadergeroep en gesê: “Jislaaik, die ouma stuur jou vér. Hoekom gaan jy nie Spar toe nie? Hoekom loop jy so ver?”
Vermeende verdagte deur Hunter se vriendin in lokval gelei
Hy het aan haar verduidelik dat hy bank toe gaan. Sy bied toe die verdagte ’n saamrygeleentheid aan. Sy het koud geword van vrees toe die verdagte by haar in die motor inklim, maar sy kon nie dat die verdagte wat haar vriendin aangerand het, wegkom nie, sê Burger.
“My ma sê hy het agterdogtig begin geraak toe sy haar selfoon optel. Hy het haar gevra om net daar te stop om hom af te laai.”
Burger se ma het om die draai gery en ’n speurder gesien wat buite gestaan het. “My ma was in ’n toestand terwyl sy aan die beampte probeer verduidelik het oor die verdagte. Sy het vir die speurder gesê om haar te kom help, sy sal verduidelik.”
Hulle het gery en die verdagte vasgetrek. Die speurder het die tuinier ondervra en bystand is ontbied.
Burger sê haar ma kon nie glo dat hy vry rondloop of daar niks gister gebeur het nie.
Geld en huisleutels gekry
Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder vir Jacobsdal, sê een verdagte, wat mev. Hunter se tuinier was, is ongeveer 09:15 vanoggend gevang.
Die polisie het geld en sleutels, wat aan Hunter behoort, in sy besit gekry.
Die tweede verdagte (35) is later die oggend in hegtenis geneem. Die twee gaan binnekort op aanklag van seksuele aanranding in die Jacobsdal-landdroshof verskyn.
Mpakane sê ’n klag van diefstal kan moontlik ook teen die beskuldigde gebring word.
Slagoffer vra vir privaatheid
Denise Coetzee, woordvoerder vir die Gariep Medi-Clinic, sê mev. Hunter is nog in die hospitaal, maar is stabiel. “Mev. Hunter het het ook gevra dat haar privaatheid respekteer word en wil nie in hierdie stadium met die media praat nie.”



