NOORD-KAAP – Die Noord-Kaapse gemeenskapspolisieraad het met ’n vyf-dae lange veldtog in Noord-Kaap begin, om ’n polisiëringstrategie aan beamptes voor te lê.
Brig. Mohale Ramatseba, kommunikasiehoof vir die provinsiale polisie, sê die veldtog is vandag in Sunrise, De Aar in die Pixley ka Seme-distrik afgeskop.
Namakwa, ZF Mgcawu, en John Taolo Gaetsewe is volgende en die veldtog sal in die Francis Baard-distrik afgesluit word.
Polisiëringstrategie word voorgelê
Polisiekantore in die Pixely Ka Seme-distrik is vandag saam met die plaaslike GPF-strukture ingelig oor die Community in Blue Concept wat in die gemeenskapspolisiëringstrategie vervat word.
Ramatseba sê mnr. Ephraim Homan, die voorsitter van die provinsiale gemeenskapspolisieraad, het die polisiëringstrategie aan die gemeenskap voorgelê.
Gemeenskap word aangemoedig om deel te neem
Hy het gemeenskapslede aangemoedig om deel te word en saam met die polisie te werk in die stryd teen misdaad.
Die Community in Blue-konsep poog om gemeenskappe te laat deelneem teen die stryd teen misdaad in hul woonbuurte. Gemeenskapsgebaseerde organisasies word ook aangeraai om deel te word van die konsep.
Die provinsiale bekendstelling van die strategie vir gemeenskapspolisiëring word op 21 September 2019 in die Nonzwakazi-stadion op De Aar gehou.





