Amy’Leigh de Jager (6): verdagtes vir ontvoering bly in aanhouding

Tharina Human, Amy'Leigh de Jager se boetie se juffrou en Angeline de Jager, Amy'Leigh se ma.

VANDERBIJLPARK. – Die drie verdagtes wat Amy’Leigh de Jager glo verlede Maandag voor haar skool, Laerskool Kollegepark, ontvoer het, bly in aanhouding.

Tharina Human (26), Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50) het vandag hier in die landdroshof verskyn.

Nie gevra om te pleit nie

Volgens Amy’Leigh’s Missing Kids-blad, is hulle nie gevra om te pleit nie en bly hulle in aanhouding tot 19 September.

Dit het sedertdien aan die lig gekom Human was ’n onderwyser by die skool ten tye van die ontvoering. Sy het glo ook op die dag van die ontvoering vir ouers ’n stemboodskap gestuur waarin sy hulle verseker hulle kinders is “veilig”.

Juffrou geskors

Die skool het Human intussen geskors.

Andries Pienaar, voorsitter van die Laerskool Kollegepark se beheerliggaam, sê Human was ‘n gr. RR-onderwyser by dié skool.

Amy’Leigh se boetie se juffrou

“Tharina Human werk al sedert die begin van die jaar by die skool. Sy was nie Amy-Leigh se onderwyseres nie, maar sy was wel die onderwyseres van Amy-Leigh se jonger boetie.”

Pienaar het bevestig Human is geskors tot die uitkoms van die ondersoek deur die polisie. “Haar pos was ’n beheerliggaam-aanstelling. Die beheerliggaam volg al die regte prosesse met aanstellings. Ons is geskok.”

Hy het gesê die skool stel ekstra veiligheidsmaatreëls in. “Ons wil ouers en leerlinge verseker ons doen alles in ons vermoë om die veiligheid van ons kinders te verseker. Terselfdertyd wil ons nie die kinders verder traumatiseer nie.”

Trauma-behandeling vir leerlinge

Hy het bygevoeg trauma-behandeling is beskikbaar vir die leerlinge. “Ons grootste prioriteit is om ’n omgewing te skep waar ons kinders kan opvoed. Dit beteken ’n balans tussen ’n sorgvrye primêre skool, maar ook om kinders op te voed oor die gevare daar buite.”

Die skool gee sy volle samewerking vir die polisie.

Video van hofverrigtinge vandag

Hier is ’n video deur Times Live geneem by die Vanderbijlpark-landdroshof vandag:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *