Oupa van Amy’Leigh ontsteld oor aannames

Wynand de Jager, Amy'Leigh se pa, saam met Christo de Jager, Amy'Leigh se oupa en Wynand se pa

VANDERBIJLPARK. – Die oupa van Amy’Leigh de Jager (6), wat Maandag hier voor haar skool ontvoer is, sê die mense wat eers vir haar gebid het, skeur nou haar gesin uitmekaar.

Dit volg na berigte dat drie mense, onder wie ’n skooljuffrou (27) van die Laerskool Kollegepark, nog ’n vrou (40) en ’n man (50), in hegtenis geneem is. Dié juffrou is glo vriende met Amy’Leigh se ma, Angeline. Sy was ook luidens berigte op skool saam met Amy’Leigh se pa, Wynand.

Praat op Facebookgroep

Christo de Jager, Amy’Leigh se oupa, het op die Facebookgroep, Gebede vir Amy-Lee de Jager, gesê hy is die oupa van Amy.

“Ek het ’n lewe vol hoogtepunte en laagtepunte gehad. Ek het my vrou aan kanker verloor en vyf jaar later my oudste seun. Maandag, presies agt jaar terug, het ek my kleindogter vir ‘n rukkie verloor aan die duiwel homself. Deur genade en gebede is sy aan ons terugbesorg. Ek was so bly op daardie oomblik om ’n kind van God te wees en ’n Suid-Afrikaner.”

Dankbaar, maar teleurgesteld

Hy sê hy was so dankbaar vir elke Suid-Afrikaner wat gebid het vir Amy’Leigh se veiligheid. Maar hy is nou teleurgesteld.

Terwyl hulle nog verheug is oor Amy’Leigh se terugkeer, het mense wat vir God gebid het dat Amy’Leigh moet huis toe kom, “aaklige” en “lasterlike” aannames op sosiale media gemaak dat De Jager se seun of sy skoondogter deel is van die komplot.

“Alle Suid-Afrikers, asseblief wag vir die uitkoms van die hofsaak voordat julle aannames maak. Die polisie het hulle werk deeglik gdoen en dink julle regtig as een van my kinders betrokke was, hulle vry sou rondloop? Ek sal van die stemboodskappe aanstuur sodat ek kan wys hoe siek sommige van die Suid-Afrikaners is wat so ‘omgee’. Julle moet ’n wonderlike aand hê.”

Ondersteuning vanuit alle oorde

Die inskrywing is gevolg deur honderde mense wat De Jager ondersteun.

Louise Vergottini Jacobs sê: “Ek wil myself nie eers indink hoeveel angs en histerie daai mamma moes ervaar toe dit gebeur het nie. Hoe vertrou jy ooit weer enigiemand na aan jou? Selfs kleine Amy-Leigh dit moes bitterlik erg gewees het en daai vrees wat sy moes ervaar het….mense dink nie voor hulle praat nie. Die tong is soos vuur mense!!! Die Bybel leer dit vir ons. Hierdie gesin en familie het baie trauma en seer om te verwerk nou. Dink voordat jy iets sê hulle almal sien julle posts. Gee hulle kans om hierdeur te werk. Bly op julle knieë hulle het ons gebede nou baie meer nodig as enigiets anders. Bid dat hulle staande sal bly en dat Jesus hulle sal dra deur hierdie moeilike tyd en sal toevou in Sy liefde en genade.”

Marius Vanniekerk sê: “Laat die haters maar haat en die praters praat my broer. God weet en sien alles. Hy sê nie verniet in sy Woord dat die mens rekenskap gaan gee oor elke ydele, onsensitiewe en afbrekende woord wat oor ons lippe kom nie! Plaas dit voor God se voete…Mense kan so genadeloos, roekeloos en onsensitief wees met hulle woorde en optrede. Dood en lewe lê in die mag van die tong. Die enigste teken of ons ware volgelinge van Jesus is, is juis ons liefde vir mekaar. Sterkte daar my boetie in Jesus. Bid vir jou. Daar was die wat gesê het ons kan maar bid en tekere gaan en dat dit nooit effektief genoeg sal wees om Amy’Leigh terug te kry nie MAAR aan diesulkes wil ek sê: LOOK WHAT THE LORD HAS DONE!”

Die drie verdagtes verskyn Maandag in die landdroshof hier.

Foto: Facebook Amy’Leigh en haar ma, Angeline.

1 thought on “Oupa van Amy’Leigh ontsteld oor aannames

  1. Dis mos die mens”DOM”. Uit die selfde mond seën en vervloek ons mos! Baie jammer – maar baie bly sy is veilig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: