Minnie Muis besoek kinders vir poppekas

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Drie-en-dertig kinders is vanoggend bederf met ’n poppekas-optrede van Minnie Muis.

Minnie Muis

Carine Beylefeld (57), wat vanoggend as Minnie Muis geklee was, het vir die kinders tussen die ouderdomme drie tot vyf stories gelees en poppekas gehou. Tydens die poppekas-optrede het sy vir die kinders lessies geleer en gesê reëls is daar vir ’n rede.

Die kinders het dit gate uit geniet en het haar vrae entoesiasties geantwoord.

Sy sê sy geniet dit om met kinders te werk. “Ek doen hierdie optredes al vir amper 30 jaar. Ek is mal daaroor en dit is ’n baie groot passie.”

Werk hard

Alta van Wyk, die eienaar van dié dagskool, het sowat drie jaar gelede die dagsorg oorgekoop. “Hierdie ouderdomsgroep is ’n lekker ouderdom. Hulle wil leer en werk baie hard.”

Lentedag

Sy sê hulle doen jaarliks ’n uitstappie na die parkie, oorkant Kimberley Junior, vir lentedag. “Ons probeer dit altyd die eerste Vrydag van September hou, want die kinders kan dan rustig wees en hulself geniet.”

Die kinders gaan vandag gemmerkoekies, wat hulle vooraf gebak het, in die parkie versier.