Frans George (52) is ‘n man met ’n hart van goud en ’n groot liefde vir mense. Altyd vriendelik en altyd behulpsaam, sê Sandra Nel, ’n lid van die gemeenskap en ’n FiND iT-leser.
George is al 11 jaar getroud en werk al 18 jaar vir dieselfde supermark. Hy sê hy geniet sy werk vreeslik. George het eers as sekuriteitswag vir dié supermark gewerk. Dit is nou sy werk om mense by die deur te groet en te verwelkom.
Liefde vir ander mense
FiND iT het vir George gevra hoekom hy altyd so vriendelik is. “Ek het ’n groot liefde vir mense. God het met liefde gekom om ons van ons sondes te verlos. Om vir ander mense liefde te wys, is om vir God trots te maak,” sê hy.
Wil harder werk
George sê dit het sy hart baie bly gemaak toe so baie mense op Facebook kommentaar lewer oor die goeie diens wat hy lewer. Hy het ook geskenkbewyse by sy werkgewer daarvoor ontvang. “Dit maak dat ek weer op my voete kan staan en harder wil werk.”
Raak mense se lewens
Goerge vertel ’n kliënt wat baie kwaad was, het eendag by die winkel ingestap. Hy het haar vriendelik gegroet. Sy het later teruggekom met ’n sjokolade wat sy vir hom gekoop het. “Sy het vir my gesê sy het baie kwaad vir haar man van die huis af gekom, maar ek het haar hele dag omgedraai en het haar lewe verander.”
George sê hy behandel elke persoon wat by die winkel instap, met dieselfde respek en liefde. Maak nie saak of dit ‘n man, vrou of kind is nie.



