NOORD-KAAP – ’n Twitter-profiel word ondersoek nadat dit kwaadwillig bekendes, onder andere dr. Zamani Saul, die premier van die Noord-Kaap, van seksuele oortredings beskuldig het.
Premier van verkragting beskuldig
Bronwyn Thomas-Abrahams, die woordvoerder van die premierskantoor in die provinsie, sê die premierskantoor neem kennis van die kwaadwillige en bedrieglike Twitter-profiel, @DbnSurvivors. Die persoon of groep ontbloot glo oortreders van geslagsgebaseerde geweld en maak vals aansprake waarin Saul ook betrek word.
Thomas-Abrahams sê: “Dit kom op ’n tydstip in ons land dat ons ’n plaag van geweld teen vroue en kinders in die gesig staar. Saul was nog altyd ’n ywerige voorstander van die regte vir vroue en kinders. Die walglike bewerings word van die hand gewys. Ons glo dit ’n power poging om die premier van sy integriteit te ontneem.”
Twitter-profiel word ondersoek
Die premier het die Twitter-profiel vir ondersoek na die owerhede verwys. “Ons bly vasberade in ons stryd teen geslagsgebaseerde geweld en sulke afleiding sal ons nie afskrik nie,” sê Thomas-Abrahams.
Zamani Saul pic.twitter.com/Ffy45h7TNU
— DBN_Survivors (@DbnSurvivors) September 4, 2019



