WARRENTON – Twee gewapende verdagtes word gesoek nadat hulle ’n snoepwinkel in Ikhutseng, Warrenton, beroof het.
Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder vir die polisie, sê die twee verdagtes het op 25 Julie die snoepwinkel bestorm. Die eienaar is met ’n mes in die arm gesteek. Die twee mans het van die toneel gevlug.
Twee mans word gesoek
Tawana sê die mans is tussen die ourderdom van 35 en 40 en is medium gebou. Hulle is tussen 1.6 en 1.9 meter lank.
Besigheid in New Stance beroof
In nog ’n voorval in New Stance, Warrenton, word ’n verdagte gesoek nadat hy ’n snoepwinkel beroof het. Tawana sê die verdagte het die eienaar met ’n mes in die kop gesteek. Die verdagte het die toneel met ’n onbekende som geld, kruideniersware en sigarette gevlug.
Die polisie doen beroep op enigeen met inligting om sersant Mmapheletso Ngono op 078 8505 038 te skakel.






