Kimberley-paartjie bring pryse huis toe

Deel hierdie storie / Share this story

Jamé Hansen (28) en haar man Helgard (32) het onlangs op Kathu aan die IFBB deelgeneem. Jamé gesels met FiND iT oor die bloed, sweet en trane wat dit vat om aan só ’n kompetisie deel te neem.

Hoekom liggaamsbou?

Die paartjie is persoonlike afrigters. Jamé sê dit was nog altyd iets wat sy wou doen, maar dat dit haar man, Helgard, was wat die dryfkrag agter haar deelname aan die kompetisie was. “Angela Lendia, my vriendin en kliënt, droom al lank om dit te doen, dus was sy ook ’n inspirasie vir my om uit my gemaksone te klim en iets nuuts aan te pak – om onsself te verbeter as fiksheidsinstrukteurs en ook die ondervinding op te doen. Die fiksheid- en gesondheidsbedryf is my passie. Helgard het my dieet- en oefenprogram uitgewerk en vir my die regte aanvullings verskaf.”

Watter voorbereiding moes getref word?

Jamé en Helgard het op 16 weke begin voorberei. Jamé vertel dit verg baie deursettingsvermoë en dissipline. “Elke dag moet jy hard werk en jou alles vir jou doelwit gee. Twee keer ‘n dag moet jy oefen, reg eet en op die regte tye eet. Alles is baie meer tegnies as wat mense sou dink. Maandag tot Sondag lewe jy vir jou doelwit. Deur alles moet jy aan die voorgeskrewe kriteria van die IFBB-federasie voldoen.”

Wie het jou deur die moeilike tye gedra?

“Sonder Jesus sou ek nie die proses kon deurgaan nie. Alle eer aan Hom. Sonder Helgard se kennis, leiding en ondersteuning sou ons nie die sukses kon behaal nie. Sonder Angela se vriendskap en bystand sou my emosies dit nie hou nie. Saam het ons een ongelooflike span gemaak en die Noord-Kaap verteenwoordig met alles in ons.”

Jamé het eerste plek in die afdeling vir strandlywe verwerf, asook ’n sertifikaat wat bevestig dat sy kwalifiseer om Suid-Afrika by die provinsiale IFBB te verteenwoordig.