KIMBERLEY. – Esté Neuhoff (16) het vanjaar begin met skiet as ’n sportsoort en is die enigste skolier van Kimberley wat gekies is om aan die Suid-Afrikaanse skole-skietkampioenskappe van 2019 deel te neem.
Dié kampioenskappe vind vanaf 22 tot 26 September in Kaapstad plaas.
Tzaneen na Kimberley
Esté skiet tans vir die o/21-span. Sy het eers dié jaar begin met hierdie sportsoort en was tot die tweede kwartaal vanjaar in Hoërskool Ben Vorster op Tzaneen, waar sy die sport begin beoefen het.
Inspirasie
“Een van my vriende wat oorsee was vir skiet het my geïnspireer om dit ook ’n kans te gee. Ek is baie bly ek vorder daarin en verstaan dit,” sê Esté.
Oefening
Esté oefen twee dae per week by Hoërskool Noord-Kaap en vier dae ’n week by die huis. Esté is tans in Hoërskool Adamantia, maar skiet vir Hoërskool Noord-Kaap se span.
Sy moes aan verskeie kompetisies deelneem vir kwalifiserende punte, sodat sy vir die kampioenskappe gekies kon word.
Geweer
Esté sê hulle mag net met spesifieke gewere skiet. “Ek skiet met ’n CZT 200 op 10 m.
Gemotiveerd
Esté is baie opgewonde oor die kampioenskappe later die maand. “Ek is baie trots op myself. Ek het nog nooit eers gejag nie, maar om te weet ek neem aan die kampioenskappe deel, is ’n baie lekker gevoel. Ek het al aan baie ander sportsoorte, soos gimnastiek en tennis, deelgeneem, maar geniet hierdie sport verreweg die meeste.
“Sy is baie gemotiveerd om ’n groot sukses van die sport te maak en ons is baie trots op haar. Dit is die eerste sport wat sy werklik geniet, so ons probeer haar aanmoedig om hard te oefen en haar beste te gee,” vertel Kim van Vuuren, Esté se ma.




