KIMBERLEY – Ondernemings en inwoners van Beaconsfield, in Kimberley, het begin kla nadat ’n gedeelte van Mainstraat en ’n stormstelsel na bewering deur trokke uitgetrap is.
Ockert Fourie, ’n DA-wykslid van die gebied, sê inwoners het begin kla omdat hulle meer as twee keer op ‘n dag moet afstof. Hy sê gedurende spitstye beweeg daar bykans 20 trokke in ’n halfuur deur die gebied. Hy sê die trokke, wat myngrond vervoer, laat ’n dik stoflaag agter.
Die stormwaterafvoerstelsel op die hoek van Mainstraat en Kaapstadweg het ineengestort en die oppervlak van die pad op die hoek is na bewering deur swaarvoertuie flenters getrap.
Fourie sê hy het vandag die geblokkeerde afvoerstelsel met ’n ingenieur van die munisipaliteit bespreek. Hy is besig om ’n vergadering met die munisipaliteit, die myn en ander belanghebendes te reël om ’n oplossing vir dié probleem en ander tekortkominge in sy wyk te vind.

















