Sensitiewe dokumente in veld gevind

KIMBERLEY – Registrasievorms vir vuurwapens, bankstate en fakture is deel van die vullis en bourommel wat ’n veld in El Toro Park, Kimberley, in asgate omskep.

Michael Hawthorne, ’n joernalis by FiND iT, het twee weke gelede berig oor leë hoflêers wat in die veld naby Gariep-hospitaal gevind is. Hawthorne sê hy het weer daar ondersoek gaan instel, om vas te stel of ’n lekkasie by munisipale infrastruktuur nog water in die veld laat stroom. Hy sê daar is talle vullishope en dele langs die grondpad waar bourommel gegooi word.

Fakture van besighede, verjaardagkaartjies en allerlei vuilgoed besoedel die veld

Hawthorne sê by nadere ondersoek in een gebied het hy dokumente van ’n sensitiewe aard gekry. Een van die dokumente wat hy daar gesien het, is ’n SAPS 539-aansoekvorm. Volgens die vorm het ’n man van Barkley-Wes aansoek gedoen om ’n Ruger M77-geweer vir ’n periode tussen 2006 en 2007 te berg. 

Nog ’n dokument, ’n bankstaat vir ’n Money Market-beleggingsfonds van ABSA, lê bloot dat ’n Kimberliet in 2011 ’n neseier van R 265 377.50 gespaar het. 

Hawthorne sê hy kan nie glo dat mense sulke sensitiewe dokumente sorgeloos weggooi nie. Hy sê hy is bekommerd dat kriminele elemente die inligting vir misdade soos bedrog of afpersing kan misbruik. “Dink net as ’n voornemende boef daarop afkom en ontvoer een van jou geliefdes en vra jou neseier vir ’n losprys,” vra hy.

Hawthorne sê hy het ’n onderneming, waarvan hy die faktuur in die veld gevind het, gebel. “Ek het gevra of hulle weet hoe die faktuur in die veld beland het. Hulle het aan my verduidelik dat hulle van munisipale dienste vir vullisverwydering gebruik maak. Die onderneming sê hulle sit Woensdae vullis uit en het nie ’n benul hoe die faktuur daar kon beland nie.”

Thoko Riet, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê onwettige storting is ‘n groot probleem in verskeie gebiede. Sy sê die munisipaliteit het ten duurste met skoonmaakprojekte begin, maar inwoners het die gebied kort daarna weer met rommel besoedel.

Riet sê daar is verordeninge wat deur beamptes afgedwing word. Dit is egter moeilik om te vervolg, omdat oortreders saans in die donker van die rommel ontslae raak. 

Die munisipaliteit maan die gemeenskap om oortreders te rapporteer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *