Tik, Mandrax en Amerikaanse dollars in Cassandra gekry

flashmul

CASSANDRA – Monday Augustin Nwanko (38), ’n inwoner van Cassandra, Kimberley, is in hegtenis geneem nadat die polisie Tik, Mandrax, Cat en dollars by sy huis gevind het.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder vir die Valke in die Noord-Kaap, sê die Valke het op ’n wenk reageer dat dwelms vanaf Cassandra na Colville vervoer word. Sy sê die Valke het met behulp van die Kimberley-polisie se honde-eenheid die verdagte voertuig in Cassandra opgespoor. Hulle het die verdagte voorgekeer, sy motor deursoek en op ’n klein hoeveelheid Tik beslag gelê.

Mnisi sê die polisie het by nadere ondersoek meer dwelms, onder andere Tik, Mandrax en Cat, en ’n onbekende som Amerikaanse dollars by die verdagte se huis in Cassandra gekry. 

Nwanko het gister op aanklag vir die besit van en handeldryf in dwelms in die Kimberley-landdroshof verskyn. Sy saak is tot 5 September uitgestel en hy sal tot dan in aanhouding bly.

Brig. Prince Mashimbye, die provinsiale hoof vir die direktoraat vir prioriteitsmisdade in die Noord-Kaap, sê hy is tevrede met dié sukses en het ’n belofte gemaak om dwelmhandel in die Noord-Kaap uit te roei.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *