Kragkabel oor huise se dakke na bure aangelê

Deel hierdie storie / Share this story

Krag word vanaf ’n huis in Irastraat aan vier ander huise in die straat verskaf, met die kragkabel wat bo-oor die dakke van dié huise aangelê is.

Christiaan Viljoen (20) sê hy is bang sy huis brand af nadat die Sol Plaatje-munisipaliteit ’n kragkabel tydens die herstel van ’n gebarste pyp afgesny het.

Viljoen sê die pyp in Irastraat het omstreeks 06:15 gister gebars. “Die munisipaliteit het omtrent 10:30 opgedaag om die pyp te herstel. Hulle het nie lank gewerk nie, toe hulle die kragkabel afsny. Dit was net vonke oral.”

Die ongeluk het veroorsaak dat vier huise sonder krag is. Nadat die pyp herstel is, is die munisipaliteit daar weg, sonder om die krag te herstel.

Viljoen sê hy en die bure het menige kere gebel en gevra dat die probleem herstel word. “Die munisipaliteit het gister na 21:00 teruggekom om die krag te herstel. In plaas daarvan dat die krag herstel is, het hulle ’n kragkabel vanaf die huis langsaan aangelê. Die kabel is bo-oor ons dak gelê en tot op hierdie oomblik het niemand weer uitgekom om na die probleem te kyk nie.”

“Die kabel op die dak hou ’n groot brandgevaar in. Die kragboks buite die huis is ook oop gelos. Al vier die huise trek nou van een huis af krag.” Niemand weet wie vir die krag gaan betaal nie.

FiND iT het navraag by die munisipaliteit gedoen. Mev. Thoko Riet, tydelike woordvoerder van die munisipaliteit, sê dat sy die probleem na die relevante departement sal verwys.