Uiteindelik vry van kanker

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Cindy Venter (42) het met skok uitgevind sy het analeweefselkanker en het ’n paar maande gelede haar storie met FiND iT gedeel. Vandag deel sy haar reis met die behandeling en hoe sy nou kankervry is.

Sy was 41 toe sy uitvind sy het kanker ná sy ’n pynlike knop op haar boud gekry het. “Ek het dit probeer ignoreer, omdat ek bang is vir hospitaal toe gaan. My ystervlakke het toe so laag geword dat ek permanent moeg was. Ek kon niks doen nie, ek het flou geword,” verduidelik sy.

Sy vertel hoe sy toe maar besluit het om die dokter te gaan besoek. “Hulle het ’n biopsie gedoen en ’n rare analeweefselkanker ontdek, wat gewoonlik veroorsaak word deur rook. Ek rook glad nie.”

Cindy moes in Kimberley begin met chemoterapie wat haar ore aangetas het en sy het dus haar gehoor gedeeltelik verloor. “In April is ek Bloemfontein toe gestuur vir 33 dae se bestraling en twee weke se chemoterapie. Die bestraling het baie gebrand en was nogal erg gewees. Ek was altesaam vir 50 dae in Bloemfontein.

“Ná al die behandeling moes ek weer gaan vir ’n MRI-skandering om te sien of die behandeling gewerk het. Die dokter het my laat weet ek het nie meer tekens van kanker nie.”

Sy sê dit was vir haar die wonderlikste nuus ooit. Die behandeling het gewerk. My kerk en geloof het my elke dag die nodige krag gegee om aan te gaan. My man en familie het my elke dag hierdeur gedra en ek is so dankbaar vir almal se gebede en omgee, want sonder hulle sou ek dit nooit so ver gemaak het nie.