Bosasa-hoof sterf in “gruwelike” motorongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

OR TAMBO – Gavin Watson, die uitvoerende beampte van Bosasa, is Maandag in die vroeë oggendure naby die OR Tambo internasionale lughawe in Johannesburg in ‘n motorongeluk dood.  

Lt.-kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die polisie in Gauteng, sê die bestuurder het na bewering beheer verloor en teen ’n betonpilaar van ‘n oorbrug gebots. Die bestuurder is op die toneel dood verklaar . 

Luidens berigte het die owerhede op die toneel dit as ‘gruwelik’ beskryf. ’n Polisiebeampte wat nie genoem wil word nie, het aan News24 gesê die ongeluk het omstreeks 05:05 op die pad na die aflaaipunt op die lughawe plaasgevind. 

Die Toyota Corolla waarmee Watson gery het, is volgens berigte aan die Bosasa-maatskappy geregistreer.

Papa Leshabane, die uitvoerende direkteur van African Global Operation, wat voorheen as Bosasa bekend gestaan het, het in ‘n persverklaring bevestig dat Watson in die ongeluk gesterf het.

Hy het gevra dat die media die familie tyd gee om te rou.