Bophelo-jeugsorgsentrum besoek Girls High School

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Bophelo-kinder- en jeugsorgsentrum het verlede week Girls High School hier besoek.

’n Onderwyser van dié skool het Bophelo genader om met die gr. 9-klas te praat om hulle meer te vertel oor die Bophelo-huise en wat hulle alles doen.

Roxanne Thomas, ’n vrywillige werker wat op 13 begin werk het by Bophelo, sê  dit is die eerste keer dat hulle ’n skool besoek. “Die meisies was so geïnteresseerd in wat ons met hulle gedeel het en het ook baie vrae gevra. Hulle is baie gretig om betrokke te raak en wil sommer dadelik vrywilligers word.”

Dié sentrum het twee huise, wat hulle Huis 1 en Huis 2 noem. Huis 1, wat hulle huis vir babas is, het tans nege babas. Die babas se ouderdomme wissel gewoonlik van pasgebore tot twee jaar oud.

Huis 2, wat hulle spesiale huis is, het tans 10 kinders waarvan die jongste drie en die oudste 15 jaar oud is.

“Ons het twee van ons babas uit Huis 1 en twee kinders uit Huis 2 saamgeneem om die leerders te besoek. Die meisies was mal daaroor om tyd saam met hulle te spandeer en ons kinders was ook mal daaroor om sulke lieflike meisies te ontmoet.”

Roxanne, wat ook ’n leerder by dié skool was en tans op die Old Girls-komitee is, sê  dit was so spesiaal om terug skool toe te gaan en jong dames te inspireer om uit te reik en deel te word van die gemeenskap deur dade van vriendelikheid met groot liefde te doen.