Die uitspraak oor die landsvlag wat nou as haatspraak gesien word, het ‘n landswye debat begin. Hier sê Kimberliete hoe hulle oor dié besluit voel.
Die saak is hof toe geneem deur die Nelson Mandela-stigtingsfonds na berigte dat die apartheidsvlag tydens ‘n Blackmonday-demonstrasie in 2017 teen plaasmoorde geswaai was.
Die stigting het die hof gevra om die swaai van die vlag as haatspraak, teistering en onbillike diskriminasie, kragtens die gelykheidswet te verklaar. Afriforum en die federasie van die Afrikaanse kultuurvereniging-groep vir die Afrikanerbelang het die saak teengestaan en gesê dat die vertoon van die vlag beskerm moet word deur die reg op vryheid van uitdrukking.
Waar kom die vlag vandaan?
Die vlag van Suid-Afrika is van 1928 tot 1994 deur die Unie van Suid-Afrika en sy opvolgerstaat, die Republiek van Suid-Afrika tot 1994, gebruik. Hierdie vlag is ook gedurende die geheel van die apartheidsera gebruik, wat daartoe gelei het dat dit die “Apartheidsvlag” genoem is. Dit is in 1994 vervang met die huidige vlag van Suid-Afrika met die aanvang van die oorgangsgrondwet van die republiek en die einde van apartheid
Hoe Kimberliete voel
André Smith (36), besigheidseienaar van die stad sê: “Die grootste gedeelte van ons bevolking is swart mense. Onder die ou vlag, bedoel dit vir hulle apartheid en onderdrukking. So wanneer die grootste gedeelte van ons nasie na die vlag kyk, sien hulle apartheid. Om terug te kyk na die ou vlag, beteken jy aanvaar nie die nuwe Suid-Afrika nie. Daar sal nooit weer ‘n ou Suid-Afrika wees nie. Die probleem is, ons verdra mekaar net. Ons moet leer om mekaar te aanvaar en saam vorentoe te beweeg. Niemand wil net verdra word nie. Ons kan nie ons geskiedenis ignoreer nie. Ek kan nie glo hoe bloeddorstig mense in Suid-Afrika is nie. Ons moet terugkyk na ons geskiedenis en leer uit ons foute. Leer ons kinders die geskiedenis sodat hulle die goeie kan behou.”
Alwyn Nel (36), wat geskiedenis as hoërgraad op skool geneem het en ‘n groot liefde vir geskiedenis het sê: “Dit het my nooit geaffekteer nie omdat ek in ‘n gemengde-ras huis groot geword het.” Nel het een wit en een swart ouer. “Vir sekere Afrika mense is die vlag ‘n groot seer. Dit is ‘n persoonlike keuse. Dit sal altyd deel wees van ons geskiedenis. Ek was in 1994 in standerd 4 met die oorstaan.”
Berno Venter (27), bestuurder van Mobifix en sakeman sê: “Dit is deel van ons geskiedenis en ons kan dit nie verander nie. Kom ons sit die verlede waar dit hoort en ons kyk na die toekoms. Ons wil nie vaskleef aan die verlede nie. Ons is nou in Suid-Afrika en moet nou ‘n plan maak. Ons kan net ‘n plan maak as almal hande vat en na dieselfde droom streef.”
Paul Van Niekerk (46) sê: “Dit was Suid-Afrika se vlag tot 1994. Dit is al vlag wat ons geken het. Dit is die vlag waarmee ons grootgeword het. Almal het onder dieselfde vlag groot geword. ‘n Vlag wat in die lug hang, kan niemand skade maak nie. Dit beteken nie vir my apartheid nie. Dit is vir my meer sentimenteel as wat dit oor rassisme gaan.”
Ruan Stander (24) sê hy het nie op skool baie van geskiedenis gehou nie. Dit is eers na skool wat hy besef het hoe belangrik geskiedenis eintlik is. “Ons is veronderstel om te leer uit geskiedenis. Om iets uit die geskiedenis te wis, hoe gaan ons leer uit ons foute? Dit was die landsvlag op daardie stadium en nie ‘n simbool van apartheid nie. As hulle iets soos dit kan wegvat, wat kan hulle nog uit ons geskiedenis weg vat?”
Petronella Van der Ross (32) sê die land se geskiedenis is vir haar mooi. “Ek verstaan nie hoekom hulle nou die vlag die probleem maak nie. Dit herinner jou aan jou geskiedenis en vat jou terug in die verlede. Daar moet altyd iets wees wat jou herinner. Ons moet onthou dat daar wel eenheid gekom het.”
Leerlinge van Kimberley-hoërskole stem nie met die uitspraak saam nie.
Jandré du Plessis (17), ‘n amateur historikus en militere versamelaar sê: “Die uitslag van die hofsaak is nie vir my ‘n verrassing nie. Die laaste paar jare het die algehele regering of die staat probeer om apartheids-simbole te verwyder en plekke se name te verander. So dit is nie vreemd nie. Baie mense is baie ontsteld. Ek voel dat simbole van hierdie aard juis gebruik moet word om die verlede te probeer verstaan en seker te maak dat dit nie herhaal word nie.”
Dyllan van Zyl (14), wat al van baie klein af ‘n liefde vir geskiedenis het, sê: “Dit is deel van ons geskiedenis. Dit kan nie nou as haatspraak gesien word nie.”



