FiND iT is nou joune

Deel hierdie storie / Share this story

FiND iT staan in sy babaskoene, maar mense, is dit besig!

FiND iT het meer as ’n jaar gelede begin met die idee om ondernemings in Kimberley te “lys”.

Binne drie maande het ons gegroei tot ’n volwaardige aanlynkoerant wat elke dag tussen 12-18 artikels publiseer. Ek het nie in my wildste drome gedink ek sal my weer in die ’n nuusstoel bevind nie. Meer passievol as ooit tevore om nuus nóú by jou uit te kry. Dis tog ons elkeen se reg – om te weet wat in sy omgewing aangaan.

Ek sal julle graag in my redakteursbriewe bietjie meer wil vertel wat “agter die skerms” aangaan. Met watter uitdagings ons te doen het, hoekom ’n storie op ’n sekere manier gedoen word en hoe ons terugvoer – en kritiek – hanteer. Ook wat ons syfers is en hoe dit groei.

Die week wat verby is, het ons verskeie oproepe gekry oor mense wat ontevrede is oor ‘n spesifieke artikel wat ons gedoen het. Mense is gou om te skree of te dreig en dit vat nogal baie om jou “cool” te hou. Just be a nice person! Wat mense nie verstaan nie – en dis belangrik dat ons lesers wel doen – is dat ons geregistreer is by die Persombudsman, by die IAB en ons het ook ons eie interne ombudsman wat na al ons artikels wat moontlik op tone kan trap, kyk. As jy nuus doen, is alles nie altyd positief nie. Jy kry te doen met mense wie jy ken, oor wie jy ewe skielik moet skryf. Ons kíés nie die nuus nie. Die nuus kies óns.

Dis iets waarvoor ek nie reg was nie. Die publiek se opinie. Die wonderlike ding is dat mense FiND iT hulle eie maak. Dit beteken julle praat met ons en dit is waar ons inspirasie vandaan kry. Ons kan letterlik elke dag sien hoe ons leserstal klim. Ons kan dadelik terugvoer gee, iets opvolg, maar ook aandag gee aan terugvoer en kritiek. Die reaksie op sommige artikels is soms oorweldigend en dit is iets waaraan die joernaliste wat vir ons werk, moet gewoond raak. Ewe skielik lewer iemand kommentaar op iets wat jy geskryf het en jy wil reageer. Maar jy kan nie. Elke persoon – binne perke – is geregtig op sy eie opinie. As ons foute maak, moet ons dit regstel. As ons iets moet opvolg, dan doen ons dit. Jy moet leer om ’n dikker vel te hê, want jy is baie blootgestel. Mense leer ken Kayla, Tania en Michael se name. Hulle word herken op tonele en jy, die leser, stel jou vertroue in hulle om jou te help. Om iets onder die aandag van ’n departement te bring. Om met die munisipaliteit in verbinding te kom. Om weer te gee waarmee die polisie besig is.

Ons begin ons voete vind en dinge begin rustiger raak. Julle laat weet ons van stories en daarvoor is ek so dankbaar. As ons ’n artikel doen wat daartoe bydra dat ’n dogtertjie wat haar ma soek, binne sekondes met haar ma herenig word, is dit die moeite werd. As ons artikels doen oor iemand wat siek is en hulle samel meer as R1 miljoen in ’n jaar in, dan doen ons iets reg. As ons nie-winsgewende organisasies bystaan, borge is vir gebeurtenisse in en om Kimberley, of sonder dat enige van julle weet, iemand bystaan op watter manier ookal – is dit die moeite werd.

Stelselmatig begin jy besef dat alles in die lewe nie regverdig is nie. Ons kan nie kies waaroor ons skryf nie, want ons skryf wat gebeur. Ons is slegs ’n kanaal waardeur die nuus gaan sodat jy dit kan lees. Die messenger. En ons probeer om éérste te wees, want ons kan. Daarom is die pas in die kantoor baie vinnig. Sink or swim!

Ons is hier om te bly. Dankie dat jy FiND iT ’n plek op jou foon gee. Op jou Facebook, jou Instagram, jou Whatsapp. Dankie dat jy ons nommers stoor en ons kontak. Dankie dat jy voel jy kan jou opinie lewer, want ons sal luister. Groei saam met ons. Hou aan om ons te ondersteun.

Dis ’n opwindende tyd wat voorlê!

Kontak ons hier:

Jana Grobbelaar: [email protected]

Michael Hawthorne: [email protected]

Kayla Vermeulen: [email protected]

Tania Coetzee: [email protected]

Ons syfers:

Lesers: “Hits”

JULIE: 79 187 233 561

JUNIE: 71 472 188 751

MEI: 75 208 205 423

INSTAGRAM: 1485 “followers”

WHATSAPP-GROEPE: 4 X NEWS-FEED GROUPS

TELEGRAM – 1 X GROEP

FACEBOOK: 31 066 (BLAAIE, PROFIELE)