Reuse-salaris vir Sol se amptenaar?

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ’n Advertensie deur die Sol Plaatje-munisipaliteit vir ’n bestuurderspos van die geïntegreerde ontwikkelingsprogram (GOP), wat R 70 550.75 per maand aanbied, het aandag op sosiale media ontlok nadat lede van die gemeenskap die buitensporige salaris bevraagteken het.

Die gekose bestuurder sal verantwoordelik wees vir die bestuur van die GOP en munisipale prestasiebestuurstelsel soos deur die munisipale wetgewing voorgeskryf.  Die persoon moet ook namens die munisipale bestuurder prioriteit gee aan die basiese behoeftes van die gemeenskap en sosiale en ekonomiese ontwikkeling bevorder.

Lesego Madikwane, ’n inwoner van Kimberley, het die plasing op die Sol Plaatje-gemeenskapsforum gedeel en gevra dat die lede dit moet bespreek. Hy het gevra of die salaris geregverdig is wanneer die meeste mense baie minder verdien. Die som geld kan tussen 25 mense verdeel word en elkeen sal nog ’n goeie salaris verdien, het hy gesê. 

Nog ’n lid het gesê die salaris is belaglik. Hy sê die munisipaliteit betaal groter salarisse as staatsdepartemente.

Tumelo Mosikare, sekretaris van die forum, het gesê dit is die gemors waarteen die unies baklei, terwyl die munisipaliteit ’n tekort van R25 miljoen het en boonop R81 miljoen vir elektrisiteit verskuldig is.

Vic Dibane het op die plasing gesê daar is niks om te wys om die salaris te regverdig nie.

Neville Motlhabakwe het gesê arm mense betaal vir die luukse leefstyle van munisipale werknemers.

Bashir Fleming het gesê dit is ’n sonde dat die munisipaliteit sulke salarisse aanbied, terwyl inwoners sukkel om vir dienste wat te duur is, te betaal.

VF Plus het op die plasing gesê vir daardie salaris sal mens ’n professioneel bestuurde munisipaliteit verwag.

Sello Matsie, woordvoerder van die munisipaliteit, sê die pos is vir ’n geruime tyd vakant sedert Marius Stols, die vorige programbestuurder, dit verlaat het. Hy sê ’n waarnemende bestuurder het in die tussentyd ingestaan. 

Matsie sê die programbestuurder is vir die projekte van verskeie departement by die munisipaliteit, wat op die GOP gelys is, verantwoordelik. 

Op vrae oor die bepaling van salarisse het Matsie geantwoord: “Die werksevalueringsisteem binne die plaaslike regeringsektor bepaal munsipale salarisse en is deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van SALGA  goedgekeur. Munisipale bestuurders en bestuurders wat direk aanspreeklik is teenoor munisipale bestuurders ingevolge artikel 56 van die wet op plaaslike regering: munisipale stelsels, word uitgesluit van hierdie beleid.”

Die totale uitgawes aan salarisse is gebaseer op ‘n bepaalde persentasie van die uitgawes of begroting van die munisipaliteit, het Matsie gesê.