Lena se lot – Episode 4. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Episode 4: André

Die son begin sak oor Roodepan toe ‘n rooineus dronkie sukkel-sukkel by die ingang van ‘n tavern uitstap en skop na ‘n rondloperhond wat aan ‘n vuil weggooidoek kou. Die hond grom en hap na die dronkie se been. Hy steier terug. 

“Hey voesek, voesek,” skreeu die dronkie en skop die hond in die ribbes. Die hond spring tjankend weg. 

“Jou blerrie vuil melk!”

Die dronkie skel verder en slinger weg. 

Klipharde musiek stroom by die erf van club “Y-Not” uit. Binne dans ‘n vroutjie eenkant by ‘n paar leë tafels en maak ogies vir ‘n gryskop oom wat haar eenkant sit en dophou. Hy grinnik en sy bruin tande wys. 

André sit ‘n tafel weg van die gryskop oom af, diep in gesprek met sy vriend. Ses bruin bierbottels staan op hulle tafel. Net twee bottels het nog drank in. Sy vriend Koos wat ‘n paar jaar ouer as hy is, neem ‘n lang sluk aan sy bottel en vee sy mond af. 

“Nee, vandag se vroumense wil mos op ‘n man se kop sit, my vriend.”

Hy maak ‘n klapgeluid met sy mond soos wat hy homself verlekker in die gesprek en lig sy wysvinger om sy punt duidelik te maak. 

“Jy moet dit nie toelaat nie. Never.”

André volg altyd Koos se raad. Koos Jansen is soos ‘n ouer broer vir hom, maar tog is hulle beste vriende. Rook saam, drink saam en geniet altwee sokker. 

“Sy bel mos die polisie vir my.”

André tel sy bottel op. 

“Vanaand gaan ek haar ‘n ding wys.”

“Sy maak jou mos badluck jong, môre sukkel jy om span te kry, dan wil sy seke sê dis jou skuld.”

André staan skielik op en slaan met sy oop hand op die tafel. ‘n Bottel val om. 

” Sy’s sleg man! Ek sê jou. Ek gaan haar vrek maak.”

“Wag nou eers my vriend, jy kan haar later uitsort. Kom maak eers nog ‘n bier daa.”

Koos sluk sy bier klaar en hou die leë bruin bottel hoog op. 

Sister Pauline Breda stap stywe nek af in die stowwerige straat, neus hoog in die lug. 

Sy’t niks lus vir die straat se mense nie. Hulle is almal sondaars. Die meeting moet tog ook nie te lank duur nie, want sy moet nog by ouma Louw ‘n draai maak en haar bydrae geld kollek. Die ou heks loop ook lank nie meer biduur nie. 

Pauline draai in by die asvaal huisie van die Johnsons en trek haar neus hoër op. Die jaard is verwaarloos en die wilde gras staan hoog. 

By die voordeur hou sy stil en trek haarself reg. Skuif haar hoedjie reguit, haal Bybel onder blad uit en trek handsak oor die skouer.

Pauline klop. 

Geen antwoord nie. 

Sy klop weer. 

Iemand antwoord binne. ‘n Sagte vrouestem. 

Pauline sug. Sy’t so gehoop niemand sal tuis wees nie. Die deur gaan stadig oop en suster Johnson se gesig verskyn. 

Pauline sit haar breedste glimlag aan en groet. 

“Sister Johnson. Hoe gaan dit?”

Sy wag nie vir ‘n antwoord nie en praat verder. 

“Pastor het my laat weet jy het iets op die hart… Praat gerus, my ore is altyd oop om te luister.” Weer ‘n breë glimlag. 

Lena se glimlag verdwyn. Sy sug. 

“Ai Sister, ek het ‘n probleem in die huis. Kom maar in.”

Sy maak die deur wyer oop en Pauline volg haar. Hulle albei gaan sit op die groot sofa. 

“Ek en my man baklei baie en hy begin my al te slaan. Ek dink is omdat hy laasjaar sy werk verloor het… Ek is lief vir hom, maar dit raak net erger.” Soos wat Lena praat, skiet haar oë vol trane en sy probeer hard om die trane te keer. 

Pauline skuif ongemaklik en maak haar Bybel oop. 

“Sister, moenie so kleingelowig wees nie, man. Ons moet net bid oor die saak.”

“Maar ek bid dan, Sister, maar André raak net erger.”

“Dan moet jy harder bid en die saak by die Here los. Jy sal sien. Hy sal regkom.”

Lena sluk en skud haar kop. 

“Ai Sister, ek weet hy is ook nog lief vir my, maar ons kinders het ek na my ma toe gestuur, want ek wili hê hulle moet die dinge sien nie en…”

Pauline klap die Bybel toe en spring op. 

“Hoe Sister Ek moet nog huisbesoek gaan doen by ouma Louw, maar laat dit aan gebed oor. Jy moet net glo.”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.