Lena se lot – Episode 3. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Episode 3: Bettie

Die twee polisiemanne is vir ‘n rukkie stil toe hulle wegtrek.

Die skraal, lang polisieman begin te praat.

“I don’t trust that man one bit.” Hy kyk na sy kollega. Hy en Van Tonder werk nou al ses maande saam in die klein gemeenskap en so ver het hulle versuim om enigiemand te arresteer.

Van Tonder sug mismoedig.

“Ja, maar wat kan ons doen as die vrou nie wil ‘n saak maak nie?”

Van Rooyen kyk by sy venster uit in die truspieël na die Johnsons se huis.

“You are right. There’s nothing we can do.”

Hulle draai af in ‘n ander straat en ‘n ou vrou hardloop amper binne-in die kar vas. Albei skrik. 

Van Tonder trap vinnig rem en die kar hou stil.

“Hoeee jinne,” skreeu die ou vrou en slaan op die kar se bonnet. Haar dun handjies is nat en wasgoedpenne wat aan haar voorskoot vasgeknyp is, gee voor dat sy besig was om wasgoed te doen. 

Nog voordat die twee polisiemanne kan reageer, spring sy vinning om tot by die drywerskant.

“Kom help julle tog. Die dief is nou net hier af in die straat…” Sy wys met haar een hand en trek haar doek met die ander reg. 

“Wat het hy gesteel Mevrou?” vra Van Tonder.

Die vroutjie skep asem.

“My skoene.”

Van Tonder kyk na Van Rooyen en hulle praat amper tegelyk.

“…’n Skoendief?”

Lena gaan sit op die stoel naaste aan haar. Sy laat sak moedeloos haar kop in haar hande en sug diep. Sy is so baie lief vir André, maar hy sien dit nie meer raak nie. Hulle stry gedurig en wanneer sy terugpraat, dan kom die houe. Lena wil huil, maar sy is te moeg. Die gestry en baklei het haar uitgeput.

‘n Skielike klop aan die deur laat wip haar. Lena sit regop. Die deur skuif stadig oop en ‘n gesig verskyn. Sy glimlag floutjies. Lena herken die bekende gesig wat nuuskierig inloer.

Dis Bettie. Haar enigste vriendin. Dié het seker weer iets kom vra. Dis altyd koffie of suiker of ‘n pynpil vir die babelaas.

“Môre Chomma.” Bettie is vol energie en stap haastig in by die deur wat sy vinnig agter haar toemaak. Sy het nog swirlkous op haar kop en het haar groen pajamas en grys sloffies wat al deurgeloop is aan.

“Hoeee. Ek het nou so vinnig gehardloop om te kom kyk wat gaan aan as die venne dan nou so vroeg hie kom staan.”

Lena onthou die ander ding is nuus. As daar nou een mens in Roodepan is wat almal se besigheid ken, dan is dit Bettie. Sy sal hardloop dat die stof staan om nuus te kry of aan te dra. Bettie ken almal en almal ken vir Bettie.

“Ag, is niks ou Bettie, Ek en André het maar net weer gestry.”

“Toe laat vang jy hom?” vra sy nuuskierig.

“Nee man. Hoe kan ek nou so iets doen aan my man?” Lena kyk vererg na Bettie.

Bettie gaan sit langs Lena en vou haar arms. 

“Kyk, ek wil nou nie by jou huislewe inmeng nie. Ek sukkel self met my man wat my so dom maak.” Bettie krap aan haar oor.

“Hy kom mos weer gisteraand van sy nyatsi af.”

Lena staan op. Sy’t nog werk wat sy moet doen, maar sy weet Bettie gaan nou eers kuier vir ‘n koppie tee en ‘n kouding.

“Ai. Wat kan ons maak my suster? Dis die lewe wat ons gekies het.”

Bettie raak opgewonde.

“Hoeee. Speak for yourself. Ek, Bettie Jansen, word nie aan geslaan.”

Sy staan ook op.

“Maar wag eers. Chomma, het jy tog nie vir my ‘n Disprin nie toe. Daai guarana van gisteraand laat pyn my kop…” Bettie hou haar kop dramaties vas.

Lena begin lag. Dit sal net Bettie wees.

“Is van kan alleen drink. Snoep.” Lena draai na die gang.

“Kom jong, laat ek vir jou ‘n pynpil gee.”

Die twee verdwyn in die gang af na Lena se slaapkamer.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.