FiND iT Fashion praat met Nicqie Robinson

Deel hierdie storie / Share this story

Nicqie Robinson (33) is ma van twee kleuters, eggenoot, besigheidsvrou en passievol daaroor om vroue mooi te laat voel.

Nicqie is nou deel van die Corporate Image South Africa-span wat vroue in Kimberley se lewens wil verander.

Jana Grobbelaar, redakteur van FiND iT, het vir Nicqie ‘n paar vrae gevra oor hoekom sy doen wat sy doen, wat vir haar mooi is en hoe sy voel oor ekstra hulp om bietjie mooier te lyk…

Hoekom die belangstelling in mode?

“Ons vrouens hou almal van mooi. Soos tye verander, verander die modes en ons stylpersoonlikhede evolve. Deur te weet wat in die mode is, kan jy bepaal wat jy deel van jou unieke styl wil maak en wat nie.”

Wat van mode is vir jou belangrik?

“Jy moenie meegesleur raak deur elke mode nie. Belangrikste vir my is dat jy moet weet wat jou stylpersoonlikheid is.  As jy weet watse brand jy besig is om te bou, kan jy besluit watter modes jy jou eie wil maak. Anders sit jy met ’n kas vol van die nuutste modes, maar jy voel nie jouself as jy dit aan het nie.”

Het jy al botox, lashes of so iets laat doen? Wat dink jy kan ‘n “hupstoot” vir jou doen?

Micro-blading is ’n moet, veral as jy nie natuurlike mooi gevormde wenkbroue het nie. Micro-needling en peels is fantasties vir ’n natuurlike glow. Ek doen nog nie botox nie.”

Wat voel jy is “mooi”?

“Die mooiste vrou vir my is iemand wat weet wie sy is. Wat ’n spirit of excellence het in elke area van haar lewe. Sy werk aan dinge waaraan sy kan werk, maar sy is ook content met dinge wat sy nie kan verander nie. So iemand is beeldskoon.”

Hoe belangrik is dit vir jou om iemand anders – spesifiek vroue – belangrik en mooi te laat voel?

“Ons almal is gebore met die vraag ‘is ek genoeg’? Met my eie reis van ‘n baie lae selfbeeld en konstante vergelyking met ander, glo ek vrouens wat hulleself vergelyk met ander voel gedurig soos lelike eendjies. My doel is om juis daardie vrouens te laat sien dat hulle eintlik ’n swaan is.”

Hoe voel jy oor vroue wat jaloers is op mekaar, in plaas van ondersteun?

“Elkeen van ons het ‘n plekkie in die lewe. Elkeen het ‘n plek op ‘n sekere manier. Dit help nie ek vergelyk myself met iemand anders nie en probeer daardie persoon wees nie. Dan is daar ‘n leemte in wat ek moet wees. Argumentsonthalwe: ek vergelyk myself met Lizelle en ek probeer soos Lizelle wees, dan gaan daar ‘n leemte wees waar my plekkie is. Die mense om my, wat ek veronderstel is om te beïnvloed, gaan uitmis, omdat ek so gefokus is om iemand anders te wees. Ek moet embrace wie ek is en my beste doen met dit wat ek kan verander. In daai plek waar ek geplaas is voluit te kan lewe, in plaas van myself te vergelyk met ander. Ons is geneig om te kyk hoe die perd langsaan jou hardloop, maar dan verloor jy fokus op jou eie resies.”

Wat dink jy veroorsaak ‘n lae selfbeeld by vroue?

“Die euwel is daardie vraag wat ons almal het, wat deur al die verkeerde dinge geantwoord word. As jy jou selfvertroue kry deur iemand anders se opinie oor jou, jou voorkoms of jou status, gaan jou selfbeeld wankelrig wees. As jy jou ware identiteit vind, deur jouself te begin sien vir wie jy regtig is, gaan niks jou selfbeeld kan affekteer nie.”

Hoe voel jy op jou beste?

“Na ’n goeie nag se slaap (my kinders word soms nog wakker in die nag), stiltetyd saam met die Here te kon hê en dan iets aan te trek wat ek is. En natuurlik mooi gemake-up.”

Jy wys vir ons hierbo jou gunsteling-uitrusting. Hoekom is dit jou gunsteling?

“Ek love blompatrone en dit pas by my kleur-analise. Ek doen graag ’n high waist. Omdat ek ’n lang middel het en kort bene, verleng dit my bene. En hakke is deel van my elegante stylpersoonlikheid. Ek soek egter altyd praktiese hakke.

“Die rooi kleur het vir my ’n dieper betekenis. Ek soek gewoonlik iets wat meer betekenis het vir my. Of dit in die kleur of ’n design is.”

Wat moet elke vrou in haar kas hê?

“Minimale, beste kwaliteit-items wat die beste pas by haar liggaamsvorm, gewig, ouderdom, gesigvorm, kleur-analise en styl-persoonlikheid. Jou man moet self vir jou ’n naweektas kan pak uit jou kas. As jou kas nie so is nie, kan kort jy my hulp!”

Waarna kan lesers op die FiND iT Fashion-blad uitsien?

“Style en hoe om dit te laat werk vir verskillende liggaamsvorms.”

Waar kan lesers jou volg op Instagram en Facebook?

Instagram: nicqierobinson

Facebook: nicqiemoniquerobinson