PRIESKA – Die polisie op Prieska het vier verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle in die besit van gesteelde goedere gekry is.
Lt.-kol. Dimakatso Mooi, woordvoerder vir die polisie in die Noord-Kaap, het gesê polisiebeamptes was na bewering met ’n roetine-patrollie in die dorp besig toe hulle ’n verdagte voertuig opgemerk het.
Die voertuig, met vier manlike insittendes, is gestop en deursoek. Gereedskap wat vir huisbraak gebruik word, is gevind. Die verdagtes kon nie eienaarskap van die goedere bewys nie.
Een van die verdagtes het aangebied om te betaal om vrygelaat te word. ’n Saak vir die besit van huisbraakimplemente en omkopery is geopen.
Onder andere het die polisie op ’n hamer, ’n hoekslyper met ekstra lemme en ’n koevoet beslag gelê.
Nadere ondersoek het aan die lig gebring dat een van die verdagtes op Upington vir huisbraak gesoek word.
Lt.-kol. Bennet Mbombo, die bevelvoerder van die Prieska-polisiekantoor, het die beamptes vir hulle paraatheid geprys.
Die vier mans moet vandag in die landdroshof op Prieska verskyn, het Mooi gesê.




