Tennisbal-grootte gewas in 12-jarige seun

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Bhyat-gesin se lewe het in een oggend baie vinnig verander toe hulle uitvind hulle 11-jarige seun, Shakeel Bhyat, het ’n gewas van 7 cm op sy pankreas.

Blindedermontsteking

Dr. Bhyat, ’n chirurg in Kimberley en Shakeel se pa, sê hy het sy seun op Vrydag 15 Maart 2019 gaan wakker maak vir skool, maar Shakeel het gehuil en volgehou sy maag pyn. “Die chirurg in my het dit reeds as blindedermontsteking gediagnoseer. Ek het toe gereël vir ’n sonar.”

Gewas op sy pankreas

Een van sy kollegas het dr. Bhyat om 10:00 dié oggend geroep en gesê Shakeel se blindederm lyk goed, maar hy het ’n 7 cm-gewas op sy pankreas. “Ons het dadelik gereël vir ’n CT-skandering van die buik en my ergste vrees is bevestig. Die gewas was so groot soos ’n tennisbal. Gelukkig was die gewas in die stert van die pankreas en kon dit verwyder word.

“Ek het van my kontakte in die Rooi Kruis-hospitaal en in Bloemfontein gekontak en na baie oorweging het ons besluit om vir Shakeel Bloemfontein toe te neem.”

Pankreatektomie

Dr. Bhyat sê Shakeel het ’n distale laparoskopiese pankreatektomie op 1 April 2019 ondergaan. “Ongelukkig moes hulle sy milt ook verwyder, maar deur die genade van die Almagtige was die operasie suksesvol en die hele gewas is verwyder.”

Die gewas is as ’n pseudo-papillêre tumor van die pankreas geklassifiseer. Dit is ’n pre-kwaadaardige gewas en is buitengewoon skaars by mans op Shakeel se ouderdom.

“Ek het hom aangeraai om nie aan enige kontaksport soos rugby of sokker deel te neem nie, maar hy ry wel fiets en swem.”

Aanvanklike diagnose

Dr. Bhyat sê die aanvanklike diagnose het hom soos ’n ton bakstene getref. “As ’n chirurg was ek ten volle bewus van die potensiële gevare van die operasie en die moontlikheid van terminale kanker. Mishkah, my vrou, was ’n steunpilaar en ons moes dapper wees vir ons seun. Terselfdertyd moes ons seker maak dat ons nie ons 8-jarige dogter verwaarloos nie.  

“Die uitgebreide families het ons emosionele en geestelike ondersteuning gebied.”

Shakeel is ’n vegter

Hy sê Shakeel is ’n vegter. “Hy was uitsonderlik deur sy beproewings. Hy is ná die operasie vir drie weke afgeboek, maar is na net twee weke terug skool toe. Laerskool Newton se skoolhoof, mnr. Boonzaaier, en sy onderwysers was baie behulpsaam en ondersteunend.

“Alhoewel Shakeel gereeld vir MRI-skanderings moet gaan, is hy gesond en word hy nou soos ’n normale 12-jarige seun groot. Solank hy daagliks met sy suster baklei, is ek verseker hy is okei.”