Salarisse met tot 25% gesny om myn te red

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die Ekapa-myn (KEM-JV) in Kimberley het ’n plan bewerkstellig om die myn volhoubaar te maak, wat sal beteken dat alle werkers by die myn se salaris vir die volgende drie maande gesny kan word.

Luidens ’n persverklaring deur die mynraad het die internasionale markprys van ru-diamante jaar vir jaar met ongeveer 20% afgeneem. Dit gepaard met ’n uitgawe van R3 miljoen per maand vir sekuriteit om sabotasie en aanvalle deur onwettige myners af te weer en infrastruktuur te vervang, het die myn ekonomies onvolhoubaar gemaak.

Die mynbestuur het aanbeveel dat alle werkers se salarisse vrywillig met 25% oor ’n vaste tydperk van drie maande gesny word.

Die nuwe besigheidsmodel maak voorsiening om salarisse vir almal met 12.5% te verlaag. Ander korttermyn maatreëls sluit in tussentydse veranderinge aan pensioenfondse, optimalisering van oortyd sowel as die uitstel van bonusse. Sodra die nuwe besigheidsmodel suksesvol ingestel is, sal die verskil terugbetaalbaar wees met die eerste beskikbare verdeelbare winste.

Die tydelike verlaging van salarisse is vanaf 1 Augustus effektief. 

Jahn Hohne, die hoof-uitvoerende beampte van KEM-JV, sê die staking van die onderneming kan ‘n waarskynlike uitkoms in die afwesigheid van die dringende tydelike maatreëls wees. 

Hohne sê: “Ons het alles in ons vermoë gedoen om die werk van ongeveer 1 400 werknemers en nog 600 mense wat op kontrak vir die onderneming werk, te beskerm.”

“Die tydelike maatreëls sal verseker dat die onderneming in bedryf bly en dat ons ons mense behou. Ons waardeer elke belanghebbende, veral ons personeellede, wat saamwerk om die lewensvatbaarheid van die myn tot voordeel van almal wat betrokke is, te bevorder,” het Hohne gesê.