KIMBERLEY – ’n Waterlekkasie op die hoek van Jan Smutslaan en Cullinansingel stroom in die pad af voor die hooggeregshof in Kimberley.
Voetgangers wat gebruik maak van die laan deur die park in die middestad moet oor die water spring of daardeur loop.
Dit is nie bekend hoe lank hierdie lekkasie al water laat stroom nie.
Sello Matsie, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê die departement van waterwerke herstel lekkasies wanneer dit vereis word. Herstelwerk word volgens ’n skedule gedoen.
Matsie sê daar is soms ’n vertraging in die skedule wanneer daar aan ’n hooftoevoerpyp soos die 965mm-toevoerpyp gewerk word. Die skedule word ook beïnvloed deur lekkasies wat in Galeshewe, Roodepan en Ritche rapporteer word.
*Foto’s en video is met ’n Huawei P30 geneem.








