KIMBERLEY. – KANSA hou vanaand weer die jaarlikse Pajama Run, ten bate van die KANSA-versorgingsentrum in Kimberley.

Johnene Ralph, die stigter van die pajama run, sê dit is die vyfde jaar wat dit gehou word. “Dit word oor die hele wêreld gedoen en ek voel daar is soveel bewusmaking vir borskanker, maar nie soveel bewusmaking vir kankersoorte wat onder die middel voorkom nie. Een van my goeie vriende is ’n paar jaar gelede gediagnoseer met prostaatkanker, daarom het ek besluit om die pajama run te hou.
“Met die jaarlikse pajama run sien ons ’n dag waarop die stil moordenaars van kanker, veral dié wat onder die middel aangetref word, soos prostaat-, servikale, eierstok- en pankreaskanker, voorkombaar is en eendag geneesbaar sal wees.”
Johnene sê daar is nog kaartjies beskikbaar teen net R30 per persoon, of R60 per persoon met ’n burger vir aandete. “Daar is ook ’n gratis suikersiektetoets wat aangebied word deur Lancet Laboratories.”



