DE AAR. – Die wenners en naaswenners van die toekenning Vroulike Entrepreneurs in 2019 (FEA) is aangewys. Die algehele wenner het met R250 000 prysgeld weggestap.
Me. Nomandla Bloem, die LUR vir landbou, grondhervorming, landelike ontwikkeling, omgewing en natuurbewaring, het hulle gelukgewens by die prysuitdeling wat Donderdagaand in die De Aar-stadsaal met die tema “Die viering van twee dekades van die vrou se oorwinning in landbou, bosbou en visserye”.
Die toekenning is in 1999 gestig om erkenning te gee aan die rol en bydrae van vroue in die landbousektor en voedselsekerheid.
“Dit dien ook om vroue aan te moedig om aan landboubedrywighede deel te neem, met die doel om die rol van vroue in die voedselproduksiesektor te erken, voedselsekerheid aan te spreek en honger en armoede te verlig,” het Bloem gesê.
Die provinsiale wenners sal die Noord-Kaap verteenwoordig tydens die nasionale byeenkoms wat op 29 Augustus 2019 in Kaapstad plaasvind.
Ongeveer dertig vroue-ondernemings het deelgeneem aan die kompetisie in verskillende kategorieë soos:
- Beste vroulike werker in die sektor: Maria Makale
- Beste bestaansprodusent in die sektore: Ipele Mosadi
Naaswenner: Eldine Farmer - Top-ondernemer in die sektore (kleinboere): Nomsa Thoba
Naaswenner: Drie Plotte - Top-ondernemer in die sektor (kommersieel): Motswedi-vrou
- LUR se spesiale toekenning (jeug): Monica Thamage
- Algehele wenner: Ipele Mosadi
Matshidiso Parage, eienaar van Ipele Mosadi, was die algehele wenner van die Toekenning vir Vroue-ondernemers (FEA) in 2019.

Die 23-jarige Parage het weggestap met R75 000 vir die beste bestaansvervaardiger in die sektor en die totale prysgeld van R250 000.
Sy is ‘n bees- en bokboer op ‘n gemeenskaplike grond in Warrenton.
Nadat sy in 2014 matriek voltooi het, het haar pa vir haar ‘n paar bokke en koeie as ‘n bedryfsonderneming gegee. “My pa is al jare boer. Na matriek het ek hom gevra of ek ook my eie onderneming kan begin en hy het nie twee keer gedink nie, hy het ingestem,” het Parage gesê.
Sy het daarin geslaag om onmiddelik al haar pa se geld terug te betaal toe sy wins begin maak het. “Ek verkoop die bokke en koeie op veilings en vir begrafnisse. Ek gee wel geld vir die gesinne wat nie kan bekostig om ‘n koei te koop om hulle geliefdes te begrawe nie.”
Parage het gesê sy sal die geld gebruik om die kraal te verbeter, meer beeste en bokke te koop en met skaap te begin boer. “Die oorblywende geld sal in die onderneming belê word,” het sy gesê.
Sy beoog ook om verder in die landbouveld te studeer.





