Jannie Brink hou afskeid

Jannie Brink onderrig leerlinge met verskillende grade van verstandelike gestremdhede, onder andere outisme, Down-sindroom en fetale alkoholsindroom. 

Dié skool gaan op 12 September 2019 ‘n afskeid hou vir leerlinge wat die skool verlaat.

Die skool funksioneer nie soos hoofstroomskole nie.  Daar is nie matrieks nie, maar die konsep van “matriekafskeid” het nege jaar gelede ontstaan toe leerlinge(veral kinderhuiskinders) vir die onderwyseres vir die senior fase, juffrou Erika van Deventer, gevra het hoekom kry hulle nie ook ‘n afskeid wanneer hulle die skool verlaat nie. Alhoewel leerlinge wat die skool verlaat fisies 18 jaar oud is, is baie van hulle se verstandsvermoë soos dié van ‘n 2- of 3-jarige.

Die tema vir vanjaar se afskeid is SIRKUS. Hulle beplan om die saal op te maak dat dit die effek het van ‘n tent met verskillende stalletjies met spookasem, koekdranke ens.

Die skool is afhanklik van skenkings vir rokke, formele drag vir die seuns, skoene, juwele ens. aangesien die meeste kinders sorgbehoewend is. Daar word deur die jaar fondse ingesamel deur die verkoop van springmielies en en tweedehandse klere. Fondse word aangewend om die afskeid se uitgawes, onder andere die ete en drinkgoed te dek.

Hare, naels en grimering word gedoen deur vrywilligers wat meestal uit onderwysers en assistente van die skool bestaan. Soms word daar een of meer kinders vir die funksie “aangeneem”. Die persoon wat die leerder aanneem, dek al die uitgawes rakende die spesifieke leerder. Motors word deur goedhartige persone geleen sodat die leerling die effek kan beleef van uit die motor klim terwyl almal kyk, alhoewel die motors net om die blok ry.

Die publiek is meer as welkom om na die afskeid te gaan kyk. Die afskeid vind plaas by die skool self en foto’s en die rondry van leerders begin om 16:00.

Enige donasies of vrywilligers is welkom en kan Jannie Brink-skool kontak by 053 841 0139.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: