Noord-Kaap netbalspan is die goud werd

NOORD-KAAP. – Die senior netbalspan in die Frances Baard-distrik het goud tydens die SA senior netbalkampioenskappe in hulle poel, in die B-afdeling, behaal.

Die kampioenskappe het vanaf 5 tot 10 Augustus by die universiteit van Johannesburg plaasgevind.

Na bewering was hierdie kampioenskap die grootste netbalkampioenskap nog, met oor 1 400 netbalspelers wat deelgeneem het.

Sewe wedstryde

Elsje van der Merwe, die spanbestuurder vir die span, is ook al sowat 20 jaar aktief in die netbalgemeenskap. Haar netbalspan het sewe wedstryde teen spanne van regoor Suid-Afrika gespeel. “Hulle het al sewe hierdie wedstryde gewen. Die o/21-span het altesaam ses wedstryde gespeel en het vier daarvan gewen.”

Sy sê om deel te neem aan die SA-kampioenskappe moet jy eers registreer by Netbal SA en in verskillende ligas deelneem. “Na die ligas moet ons proewe hou, waar ons dan net 10 of 12 spelers kan kies om die span uit te maak.

Laaste en moeilikste

“Ons laaste wedstryd, wat ook die moeilikste van die kampioenskap was, was teen die nasionale weermag. Hulle was ook onoorwonne, maar ons het hulle 60-54 gewen.”

Oefeninge

Sy sê dit is ’n onbeskryflike gevoel om goud te kon behaal. “Die Noord-Kaap word nie altyd raakgesien nie en omdat ons ver van mekaar af woon, kon ons nie oefen wanneer ons wil nie. Ons spelers moes ver afstande ry om by die oefening te wees. Ons kon ook net twee aande ’n week oefen. Tydens dié oefeninge moes ons mekaar druk en hard oefen. Ons het baie gefokus op fiksheid en kondisionering.

Beserings

“Van ons spelers het beserings opgedoen en ons het verlede Maandag ’n ernstige besering gehad. Ons hulpdoel het die ligamente in haar duim geskeur en moes Dinsdag in Johannesburg ’n operasie ondergaan.”

Hulle het agt spelers gehad (sewe spelers en een reserwe) en moes die res van die kampioenskappe voltooi met net sewe spelers. “Dit is klaar wonderlik op sy eie.”

Goud werd

Elsje sê die spelers was absoluut wonderlik. “Hulle het nooit gekla nie. Hulle het vir mekaar gespeel. Hulle is definitief die goud werd en verdien hierdie wen. Ek sal saam met hulle oorlog toe gaan!”

Foto: Die o/21-span is die brons medalje-wenners in hulle afdeling.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: