Jeug word gevier by universiteit

Foto: Wilkinson Architects

KIMBERLEY. – Die Internasionale Jeugdagviering wat op Maandag 12 Augustus 2019 deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) en die Sol Plaatje-universiteit (SPU) aangebied is, het ‘n aantal hoëprofiel-deelnemers en uiteenlopende jeugdiges uit die groter Kimberley-omgewing gelok.

Me. Kashini Maistry, die senior bestuurder van kommunikasie en bemarking by SPU, sê meer as 300 mense het die simposium, wat in die SPU-biblioteek-ouditorium gehou is, bygewoon. “Die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, en die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, mnr. Alvin Botes, het die gehoor ook toegespreek.”

Paneelbespreking

Beide die premier en die adjunkminister het deelgeneem aan ‘n paneelbespreking oor ekonomiese geleenthede vir jong mense, saam met mnr. Sfiso Mtshweni, van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA), en me. Gail Motlhaudi, ‘n dosent in entrepreneurskap aan die SPU.

By die verwelkoming van almal by die simposium, het professor Jean Baxen, die adjunk-visekanselier van akademie aan die SPU, die jeug gevra om die universiteit voor te stel as ‘n ruimte waarin hulle hul drome kan laat groei en verwesenlik in ‘n nuwe demokratiese landskap wat deur beginsels gedefinieer is. Sy het SPU beskryf as ‘n brug vir die jeug tussen vandag en môre.

Sy het ook aan die Premier bevestig dat SPU bereid is om met hom en sy administrasie saam te werk om ‘n beter wêreld vir ons jeug te skep.

Werkloosheid

Die adjunkminister het in sy toespraak die jeug uitgedaag om voortdurend die status quo te bevraagteken. Hy het gepraat oor die nasionale krisis in Suid-Afrika met betrekking tot werklose jeugdiges en die verhouding met ons geopolitieke posisie. Hy het gesê dat die Suid-Afrikaanse buitelandse beleid moet let op wat in ons beste belang is en dat die aanspreek van jeugwerkloosheid aan die voorpunt van die beleid moet wees.

Jong gees

Maistry sê ter afsluiting het professor Baxen die gehoor daaraan herinner dat ‘n universiteit ‘n plek is waar hulle jong gees gekoester word om kritiese denkers te wees, en waarin hulle die jeug ontwikkel het om die voorskrifte van sosiale geregtigheid en gelykheid te volg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: