R55 miljoen op Phutanang-begraafplaas spandeer, sê DA

GALESHEWE – Die DA in die Noord-Kaap het ná ’n inspeksie by die Phutanang-begraafplaasprojek, wat meer as 10 jaar gelede in Galeshewe, Kimberley begin is, gevind dit is nog onvoltooi en inwoners het shanties op die erf opgerig.

Christopher Phiri, DA-hoofsweep in die provinsie, het gesê die inspeksie het bevestig die nuwe begraafplaas is niks meer as ’n skoongeskraapte erf nie. 

Hier is geen heining om die begraafplaas nie. Volgens bewyse is die erf ook nie geskik vir ’n begraafplaas nie. Sewe vlak grafte om die grond te toets, het ’n hoë waterinhoud getoon.

Phiri sê die oorspronklike begroting vir die projek was R1 miljoen, maar hulle het ’n lêer vol bewyse, wat oor die afgelope tien jaar strek, wat dui dat ongeveer R55 miljoen hier spandeer is. Phiri sê die aanstelling van die projekbestuurder deur ’n vorige waarnemende munisipale bestuurder, Ruth Sebolecwe, wat vir onreëlmatighede by die munisipaliteit in die 106-verslag ondersoek word, is twyfelagtig.

Sello Matsie, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê ’n nuwe begraafplaas was in Phutanang beplan. ’n Heining, paaie en ’n kantoor was gebou, maar dit is later deur vandale geplunder en die heining is gesteel. 

’n Kriminele klag vir die diefstal van die heining is ingedien. Die munisipaliteit het ’n gedeelte daarvan teruggekry en ’n besluit is geneem om nie die verdagtes verder te vervolg nie.

Matsie sê daar is ’n paar weke gelede ’n poging aangewend om te begin om mense hier te begrawe, omdat meeste van die stad se begraafplase reeds vol is. Hy sê ongelukkig het die poging misluk, aangesien inwoners shanties opgerig het.

Die munisipaliteit het die howe aangewend en hulle het ook met die gemeenskap vergader, maar dit het nie ’n oplossing gelewer nie.

Die bedrag van R55 miljoen wat na bewering op die begraafplaas spandeer is, het Matsie verras. Hy sê luidens munisipale rekords en toekomstige planne is daar nie naastenby soveel spandeer nie.

“Ons is teen alle wangedrag en korrupsie gekant. Dit is daarom krities dat hierdie bewerings spoedig deur die owerhede ondersoek moet word. Die belastingbetalers se geld moet teen misbruik beskerm word, maar hierdie bewerings is heeltemal sonder gronde,” het Matsie gesê.

*Foto’s en video is met ’n Huawei P30 geneem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: