Moslem-ouers van Hoërskool Noord-Kaap is ontsteld oor ‘n SMS wat hulle aangaande matrikulante oor dié skool ontvang het.
Die SMS lees (in Engels): “Gr.-12 Afrikaans FAL parents: Learners need to be at school NOW!! It is mandatory oral moderation today, 12/8. Their attendance is of utmost importance. NCH”
Mense van die Moslem-geloof vier vandag Eid al-Adha en het nie hulle kinders skool toe gestuur nie. Een van die ouers, wat anoniem wil bly, het gesê: “Dit is ontstellend dat Moslem-leerders vandag gevra is om skool toe te gaan, omdat hulle weet dat ons vandag ‘n baie groot en gelukkige Islamitiese dag vier. Weet hierdie skool nie vandag is Eid nie? Of het die departement van onderwys nie verlede week al geweet dat vandag Eid al-Adha landwyd is nie?”
Die ouer sê dit is ‘n gelukkige Islamitiese dag. “Hoe minagtend om te eis dat leerders so ‘n groot godsdienstige dag ignoreer. Is daar nie voorsiening gemaak vir hierdie Islamitiese dag deur die departement van onderwys nie? Wat doen ons Moslem-ouers nou? Gebede het reeds om 07:00 begin. Die meeste leerders woon reeds gebede by. Gaan ons hulle nou fisies uit die moskees moet verwyder om skool toe te gaan? Wat gebeur met die gr.12-leerders wat nou nie skool toe gaan nie, of wat nie die SMS’e hier onder kry nie?”
Mev. Joan Venter, skoolhoof van Hoërskool Noord-Kaap, sê die rede vir die SMS-boodskap was omdat leerders, wat nie van die Moslem-geloof is nie, ook nie opgedaag het vir skool nie. Omdat daar reeds reëlings die vorige week getref was vir die Moslem-leerders, was die SMS net bedoel vir die ouers wie se kinders nie van Moslem-geloof is en nie opgedaag het vir skool nie. “Ouers kon ook die skool gebel het, indien hulle nie seker was nie,” sê Venter.



