Rioolprobleem in Petrusstraat duur voort

Deel hierdie storie / Share this story

Die rioolprobleem in Petrusstraat vererger en daar is nog geen plan van aksie ingestel nie. Inwoners raak by die dag meer ongelukkig oor dié situasie.

Cliff Hodgson (58) wat al vir 18 maande in sy huis in Petrusstraat woon, sê hy het al duisende rande se skade gely. “Die drukking raak so hoog dat die riool soos ‘n fontein by my bad, stort en toilet uitloop. Terwyl ek besig is om die water by die voordeur uit te vee, kom my plakkies in die gang af gedryf.”

Hodgson het pype aangelê sodat die riool eerder in die straat kan uitloop, anders is sy huis elke week oorspoel met rioolwater. Hy moes sy huis se kosyne laat lig en die hout verwyder omdat dit te veel skade gekry het. Sy matte het gevrot en sy besittings dryf in die kamers rond. Hy moes ook sy kombuiskaste laat lig om meer skade te voorkom. “Die laaste twee weke is dit elke tweede dag se storie. Die rioolwater loop by die bure se garagedeur uit. Die oomblik wat dit gaan reën, gaan die probleem net vererger,” vertel Hodgson.

Een van die huise in dié straat het ook 13 inwoners, wat die probleem verder vererger. Een inwoner sê sy dogter bly siek as gevolg van die aaklige reuk. In die somer is die reuk veel erger en hulle word wakker in die nag van die stank.

Die rioolvloei in die straat veroorsaak ook gate wat nie herstel word nie. Inwoners het dit op hulleself geneem om gereeld die gate met grond toe te gooi, maar dis net ‘n tydelike oplossing.

Kyk die video hier van hoe die probleem vererger.