KIMBERLEY – Medicross se drie fasiliteite, naamlik die oog- en tandheelkundesentrum en daghospitaal, in Kimberley versterk gesondheidsorg in die stad en dit is hier om te bly, sê Salome Liebenberg, bestuurder van die tak.
Liebenberg sê Medicross het ’n sterk verhouding met die mense van Kimberley opgebou oor die afgelope 24 jaar sedert die hospitaal tandheelkundige en mediese dienste begin lewer het.
Medicross het ná twee dekades hulleself in die Noord-Kaap gevestig en het ’n goeie reputasie vir bestuur en gehaltediens verower.
“Ons is baie dankbaar dat ons oor die jaar ons mediese fasiliteite kon uitbrei om oogkundige dienste in te sluit. Daar was die laaste paar maande nuwe ontwikkelinge by die hospitaal. Drs. Garth Cornellissen en Jacques Pretorius het onlangs by drs. Lynn Hartzenburg en Shabana-Nahid Kauchali-Taleb aangesluit.
Dr. Cornellissen bring enorme mediese ervaring na Medicross-Kimberley,” verduidelik Liebenberg.
Behalwe vir algemene mediese dienste wat deur Medicross Kimberley aangebied word, het die dienste aansienlik gegroei en sluit dit nou onder andere longfunksietoetse, elektrokardiografie (EKG), vrouegesondheid, PAP-smere, ‘n babawelstandskliniek, wondversorging, mediese ondersoeke vir versekering, gewigsverliesprogramme, diabetestoetse en bestuur, mansgesondheid, besnydenisdienste en MIV- en tuberkulose-bestuursdienste aan. Daar is ook ‘n Clicks-apteek op die perseel.
’n Span van sewe tandartse, drs. Lusette Fourie, Victorien Kammer, Jurie Kemp, Mariza Meyer, Peter Middleton, Paola Vermeer en Coert Vorster, bied omvattende tandheelkundige dienste aan.
Die oogsorgsentrum word deur dr. Obie Jackson, ’n oftalmoloog, bestuur. Dr. Kenneth Hornby doen ook chirurgie op ’n deeltydse basis.
“Ons is dankbaar dat Medicross só ‘n belangrike deel van die gemeenskap van Kimberley geword het. Ons wil ons pasiënte bedank vir hulle vertroue. Ons verseker hulle dat ons in Kimberley is om te bly, ”sluit Liebenberg af.



