Hennie (47) en Izabella Rossouw (45) is al vir 23 jaar getroud en hulle liefde vir mekaar is ‘n ware inspirasie vir ander.
Die paartjie se kinders, Nikita (23) en Jeandré (20), kyk op na hulle ouers en hoe hulle mekaar deur elke stryd help.
Liefdesverhaal
Beide het met hulle ontmoeting in Palmpark gewoon. Izabelle het buite op die stoep in die son gestaan. Hennie het by sy sitkamervenster uitgehang, toe hy die mooi meisie sien. “Toe ek haar sien, het ek net geweet sy is die een,” vertel Hennie.
In daardie stadium het Hennie nog nie ‘n motor besit nie en het saam met Izabelle tot by die Spur, waar sy gewerk het, geloop. Hy het in die aande ook vir haar gewag totdat sy van diens af kom, sodat hy saam met haar kon huis toe stap. “Ek het teen almal gestry. Ek het nie omgegee wat ander mense dink of sê nie,” sê Hennie. “Ons het dit wat ons wou hê, in mekaar gevind en geweet ons sal dit nooit weer kry nie,” vertel Izabella.
Beste eienskappe
Hennie sê Izabella se beste eienskap is die feit dat sy nooit opgee nie. Sy baklei vir wat sy wil hê.”
Izabella sê: “Hennie se beste eienskap is dat hy sorgsaam en ‘n omgee-mens is. Hy sal sy laaste sent vir iemand anders gee. Hy is ook baie lief vir oumense.”
Moeilike tye
Die moeilikste tyd wat die paartjie al deurgegaan het, is Izabella se stryd met kanker. Sy is 10 jaar gelede gediagnoseer met kanker, maar was vir vier jaar in remissie, voordat die kanker twee jaar gelede teruggekeer het. Izabella se borskanker het versprei na beenkanker.
Alhowel sy baie moet rus en lê, werk sy nogsteeds. Hulle doen ook nog naweke als saam.
Izabella werk al vir die afgelope 20 jaar by Kalahari Lodge en Hennie is vanaf 1992 ‘n sersant in die weermag.
Goeie tye
“Ons is baie geseënd met ons kinders en dat ons alles saam kan aanpak. Ons het nie gedink ek sou Nikita se troue haal nie, maar die 1ste September is sy al ‘n jaar getroud,” sê Izabella.
Hulle doen alles saam en het die 19de Julie vir die eerste keer saam gaan rugby kyk by die stadion. Izabella het dit baie geniet, al het hulle die kussings vergeet.
Wat hou hulle verhouding sterk?
“Liefde, respek, omgee. Al die downs, dit maak dat ons harder baklei om weer bo uit te kom,” vertel Hennie.
Boodskap aan ander paartjies
“Moenie opgee nie. Baklei vir mekaar. Staan saam,” sê Izabella.
“Al word mens op verskillende maniere groot, moet mens leer om by mekaar aan te pas. Almal maak foute. Vergewe. Dit is nie altyd maklik nie. Stap saam vorentoe. Daar is altyd ‘n uitkoms tot vergifnis,” sê Hennie.



