DBV maak fout en sit honde vroeg uit

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG – Die DBV op Vereeniging het twee honde weens ’n administratiewe fout twee dae te vroeg uitgesit.

Gerhard Stydom, die eienaar van die twee honde, Sterretjie en Sareltjie, sê hy was op 21 Julie besig om sy voertuig in te trek toe sy twee honde die geleentheid gesien en in die straat af gehardloop het.

“Ek het daardie oggend twee uur na hulle gesoek, maar ek kon hulle nie opspoor nie,” verduidelik Strydom.

Die honde is dieselfde oggend deur ’n Tiaan by die Emerald-casino se Animal World gevind en hy het hulle na die Vereeniging-DBV geneem.

Strydom sê hulle het op 26 Julie nog na die honde gesoek toe hy 10:00 ’n oproep van sy vrou ontvang het dat hulle honde by die DBV is. Strydom het onmiddellik soontoe gery.

“Ek het met my aankoms by die DBV met ’n Cheree by ontvangs gepraat. Sy het my ’n vorm gegee om in te vul, min wetend dat my honde in daardie stadium reeds dood of besig was om uitgesit te word. Cheree, dieselfde dame by wie Tiaan die honde die Maandag ingeboek het, het vir my gesê ek moet gaan kyk of ek nie my honde in hulle hokke sien nie. Sy stuur my toe daar in, maar ek kon nie my honde kry nie. Hulle het vir my gesê ek moet by die Vanderbijlpark-tak gaan kyk. Ons het onnodig al die pad tot daar gery, want hulle was nie daar nie.”

“Dit is eers toe ons met ’n Eloise by die Vereeniging-DBV praat dat hulle my die waarheid vertel en vir ons sê ons honde is die oggend van 26 Julie uitgesit. Hulle het verduidelik dat dit deur ‘human error’ veroorsaak is, en dat die honde eers op 28 Julie uitgesit moes word.”

Strydom sê hy sal nooit weer die DBV ondersteun nie. “Hulle het my honde doodgemaak.”

Die Vereeniging en Vanderbijlpark-DBV het in ’n persverklaring gesê hulle aanvaar volle verantwoordelikheid vir die honde wat as gevolg van ’n “menslike fout” uitgesit is. ’n Interne ondersoek is geloods.

Die DBV het om verskoning gevra vir die ongerief, verlies en hartseer wat deur die DBV veroorsaak is.

DBV beveel mikroskyfies aan

Die DBV sê dit is in so geval krities dat troeteldiere met ’n mikroskyfie en ’n nekband, met ’n identiteitskyfie, gemerk is. Alle diere wat na die DBV gebring word, word ten minste drie keer gedurende hulle verblyf vir mikroskyfies geskandeer.