Stella-moordverdagte weer in hof

Deel hierdie storie / Share this story

Xander Bylsma (20), wat van die moord op sy eksmeisie en sy kleinniggie beskuldig word, verskyn vandag weer in die Mmabatho-hooggeregshof.

Sharnelle Hough (17) en haar vriendin, Marna Engelbrecht (16), se liggame is op 26 Mei verlede jaar in die koshuis van die Hoërskool Stella gevind. Hough het aan ’n nylontou aan ’n trapreling gehang. Engelbrecht se liggaam is in die badkamer, met ’n handsakband om haar nek, gevind. Albei die leerders is vermoedelik verwurg.

Bylsma se regspan het in Mei vanjaar onttrek en sy saak is na vandag uitgestel. Sy eerste prokureur het glo vroeër vanjaar weens ’n vertrouensbreuk onttrek.

Daar word berig dat ’n binneverhoor vandag aan die gang was om te bepaal of ’n bekentenis wat Bylsma gemaak het, as bewysstuk toegelaat mag word. Die bekentenis wat na bewering in die bakkie op pad na die polisiekantoor aan privaat speurder, Chris Saunders, gemaak is, is ook op band vasgevang.

Na aanleiding van Maroela Media se berig vroeër vanjaar kan Bylsma se stem op die bandopname gehoor word. Hierop sê hy aan die speurder dat Marna op die aand eerste gesterf het. Hy wou daarna probeer om dinge tussen hom en Hough uit te praat. Bylsma sê ook op die bandopname hoe hy die nylontou om Hough se nek gebind het en haar daarna by die trapreling laat afsak het.

Foto: Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht ( Jacaranda FM )