Koekwenner nou kankervry

Deel hierdie storie / Share this story

Charl du Plessis (59), wat FiND iT se koekwenner voeër in Julie was, sterk tans aan in die intensiewesorg-eenheid van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein.

Hy is op 14 Maart 2019 met kanker gediagnoseer. Ná 28 dae se bestraling en chemoterapie het die kanker egter versprei en moes hy ’n operasie ondergaan om die kanker te verwyder.

Charica Smit, Charl se oudste dogter, sê dit gaan baie goed met haar pa. “Hy het Dinsdag vir die operasie gegaan en is Woensdag uit die intensiewesorg-eenheid geskuif. Hy sou Donderdag ontslaan word, maar is Donderdagoggend teruggeplaas na die intensiewesorg-eenheid. Hy het septisemie gekry en in septiese skok gegaan.

“Die dokter het ons in kennis gestel dat dit algemeen is onder pasiënte met diabetes.”

Sy sê dit gaan nou baie beter met haar pa. “Hulle het hom op antibiotika gesit en suurstof gegee. Hy is egter nou weer van die suurstof af en is al weer amper sy ou self. Hy maak die susters mal in die hospitaal.”

Charica sê haar pa sou ’n kolostomie-sakkie kry, maar dit was egter nie nodig nie. “Hulle kon al die kanker verwyder en dit was dus nie nodig nie. Die oomblik toe my pa uitvind hy is sakkie-vry het hy gesê: ‘Dankie, liewe Jesus!’

“Hy wil net weet wanneer hy huis toe kan kom. Hulle gaan deur die loop van die dag weer toetse doen, omdat daar nog bietjie bloeding is, maar hy behoort in die week weer uit die intensiewesorg-eenheid geskuif te word.”