VALSPAN. – ’n Bejaarde man (73) het sy geld by ’n OTM in Jan Kempdorp verloor toe ’n onbekende persoon hulp aan hom verleen en hom mislei het.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die bejaarde se bankkaart is met ’n ander kaart omgeruil deur die verdagte wat voorgegee het om hulp te verleen. “Die bejaarde het kort daarna ’n bank-kennisgewing op sy selfoon gekry.”
Hy sê dit was die skok van die bejaarde se lewe toe ’n onttrekking, van ’n aansienlike bedrag, gemaak is.
’n Intensiewe soektog is geloods en enigiemand met inligting oor die verdagte word versoek om die Jan Kempdorp-polisie by 053 456 5200 te kontak.
Outomatiesetellermasjien-gebruikers moet asseblief sensitief wees om enige hulp van vreemdelinge te aanvaar om te verhoed dat hulle mislei word, sê Kock.
- Intussen het die Jan Kempdorp-polisie ‘n 30-jarige verdagte in hegtenis geneem wat in besit van gesteelde staalpype gevind is. Die verdagte is met behulp van gemeenskapslede gearresteer terwyl hy die staalpype by ‘n skrootwerf probeer verkoop het.



