KIMBERLEY – Die William Humphreys-kunsgalery (WHAG) het ’n aansoek in die Hooggeregshof in Kimberley gebring om ’n kunsstudent by een van hulle woonstelle uit te sit.
Luidens hofdokumente is Theogene Niwenshuti, ’n student van Rwanda, Oos-Afrika, gedurende Februarie 2016 toegelaat om by ’n woonstel by die galery in te trek.
Ann Pretorius, die vorige direkteur van WHAG, het Theogene gedurende Februarie 2016 toegelaat om by ’n woonstel in te trek. Die woonstel is vir die tydelike gebruik van ‘n kunstenaar. Wyle Dumisani Mabaso, ’n plaaslike kunstenaar, wat kunswerke by die galery voltooi het, het dit ook vantevore gebruik.
Theogene het toestemming ontvang om hier te bly nadat hy by die Universiteit van die Vrystaat (UV) vir ’n doktorsgraad ingeskryf was.
Luidens getuienis het die student ook ’n kaart ontvang wat hom toegang tot die kantore van die kunsgalery gebied het. Hy het toegang verkry tot hulle inligting- en rekenaarstelsel. Hy beweer hy het die rekenaar vir navorsing gebruik.
Die huidige direkteur het Theogene die kantore verbied omdat hulle hom gereeld oor naweke daar gevind het wanneer daar geen personeel teenwoordig was nie. Hulle het ’n sekuriteitshek opgesit.
Luidens hofdokumente moes werkers en die sekuriteitsmaatskappy van die galery verskeie kere die alarm by die galery oor naweke aanskakel omdat die student vergeet het om dit aan te sit wanneer hy die perseel verlaat. Dit skep ’n sekuriteitsrisiko vir kunswerke, wat miljoene werd is, wat in die galery is. Die student het ook by ’n vorige geleentheid ’n kraan oop vergeet en waardevolle matte is as gevolg daarvan beskadig.
Galery sê datum op ooreenkoms is verander
Pretorius het voordat sy haar pos laat in 2018 verlaat het, ’n nuwe ooreenkoms opgetrek. Theogene het in November 2018 ’n werker by die galery, wat ’n kopie van die ooreenkoms het, besoek. Hy het die datum in die teenwoordigheid van die werker verander na 8 Februarie 2017 en dit geteken. Die voormalige direkteur het die werker instruksie gegee om die dokument elektronies te teken.
Getuienis beweer die voormalige direkteur het nie die mag gehad om die dokument namens die galery te teken nie. Dit en die verandering van die datum het die ooreenkoms ongeldig verklaar.
Die student weier dat die galery ’n kopie van die woonstelsleutel maak. Die galery sê dit is nodig vir ingeval iets gebeur terwyl die kunstenaar uitstedig is. Die galery sê daar is kunswerke van Dumisani Mabaso in die woonstel. Die boedel van Mabaso is nog nie afgehandel nie en hulle eis Mabaso se kunswerke van Theogene.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit is as tweede respondent op die dokumente gelys. Sello Matsie, woordvoerder van die munisipaliteit, sê ’n uitspraak is nog nie gemaak nie en hulle kan daarom nie kommentaar lewer nie.



