Beweerde korrupsie – betogers soek antwoorde

Deel hierdie storie / Share this story

BOSHOF. – Gemeenskapslede van Boshof was die week in ’n vergadering met die bestuurders van die Boshof-munisipaliteit oor die memorandum wat hulle op 2 Julie 2019 ingedien het. Na bewering wil die betogers hê lede van die munisipale bestuur op Boshof moet bedank weens korrupsie in die munisipaliteit.

Meer as 1 000 betogers het verlede week bymekaargekom omdat die memorandum onbeantwoord bly.

Die betogers het die memorandum ingedien met ’n sewe dae reaksietyd, maar dis uitgestel tot 12 Julie en is toe weer uitgestel tot 23 Julie.

Thabo Lefu, ’n gemeenskapsleier, sê hulle het die week antwoorde verwag. “Die munisipale bestuurder sou gister met die betrokke departemente ’n vergadering hê. Party van die mense wat vir die vergadering hier moes wees, het nie opgedaag nie.”

Lefu sê daar is belowe dat hulle teen gister antwoorde sou kry oor wat die munisipaliteit gaan doen oor die beweerde korrupsie.

Christopher Jordaan, ’n koördineerder en gemeenskapsleier vir die Boshof-gemeenskap, sê hulle het steeds geen antwoorde ontvang nie en is steeds nie tevrede nie.

“Ons probeer om weer ’n protes te reël vir vroeg in Augustus, maar ons is tans nog besig met die hofsaak teen die 38 gemeenskapslede wat tydens verlede week se staking, in hegtenis geneem is. Die borgtog is is R2 000 per persoon.”

Hy sê die gemeenskap op Boshof het dalk nie baie geld nie, maar hulle staan saam. “Ons probeer die fondse bymekaarkry om die 38 mense se borgtog te betaal.

“Ons is weer belowe dat ons binnekort antwoorde sal kry.”