BOSHOF. – Een van die organiseerders van ‘n petisie om die borgaansoek van die vermeende moordenaars van die Boshof-egpaar teë te staan, was vanoggend in die hof tydens die aansoek.
Marita du Plessis sê honderde mense het dié petisie geteken om te probeer keer dat die verdagtes van die moorde op Sakkie (67) en Ina (62) van der Berg op borgtog vrygelaat word.
“Ek was nogal teleurgesteld dat hulle nie aansoek om borgtog gedoen het nie. Om eerlik te wees, ek het gehoop hulle doen aansoek en word borg geweier.”
Sy sê sy het nie die egpaar persoonlik geken nie, maar dit het haar baie geraak. “Mens hoor gewoonlik van plaasaanvalle en moorde ver van ons, maar dié een was naby aan ons. Dit voel ons word geïntimideer en bly stil daaroor, maar iets moet hiervan kom.”
Die reaksie wat hulle deur hierdie petisie gekry het, was oorweldigend. “Ons het 1 443 handtekeninge gekry binne ’n dag en ’n half. Die e-posse stroom steeds in. Ons het ook handtekeninge gekry van Suid-Afrikaners wat na Australië, Nieu-Seeland en Amerika geëmigreer het.
“Ek sou bly wees om net 100 handtekeninge te kon kry, maar dit het my verwagtinge heeltemal oortref.”
Die memorandum wat versprei is, is deur Riaan Bode van Engelsman Magubane opgestel. “Riaan was baie gewillig om ons te help. Sonder hom sou ons dit nie kon doen nie.”
Sy sê tydens die hofsitting het iets gebeur wat haar twee keer laat dink het. “Dit was asof die hof in twee verdeel was. ’n Anderskleurige man het toe vir ons gevra hoekom ons so sit. Ek kon nie verstaan wat hy bedoel nie, maar toe sê hy ‘ons is mos almal hier vir dieselfde ding’. Ek het net besef die mense wil die een verdagte ook nie laat vrykom nie. Dit is hoe dit moet wees. Ons moet wegbeweeg van kleur en eerder saam die sleg afweer.”



