’n Voormalige dwelmverslaafde, Juan van Rensburg (Dusty, 36) kon nou vir die eerste keer in ses maande sy eie toiletware koop. In die rehabilitasiesentrum, waar hy die afgelope paar maande is, moes hy klaarkom met net ’n Protex-sepie en Dawn-lyfroom.
By ‘n werkstasie geplaas
“Dusty is nou al amper vier weke by CIARA in Middleton. Hy is nou by ‘n werkstasie geplaas en werk as ’n sjef in die restaurant se kombuis,” sê Ellouise, Dusty se suster. “Hy sê dis ‘n uitdaging, omdat hy nog nooit lief was vir kos maak nie. Hy moet nou vir al die inwoners, wat ook deel is van die rehabilitasieprogram, kos voorberei, asook al die kliënte in die restaurant se bestellings hanteer.”
Hy het pizzas, burgers en biefstuk voorberei en moes verlede Sondag die vla, wat saam met die nagereg bedien word, maak.
Sy sê sy kan met tye oor die foon hoor hy is bietjie geïrriteerd. “Hy sê dis lang ure en ‘n mens staan nie vir een oomblik stil nie.
Gestraf
“Hy sê hy word op die oomblik ook gestraf. Die badkamer wat hy saam met ‘n paar ander inwoners deel, was nie netjies nie. Ongelukkig word almal dan gestraf wat die badkamer gebruik.”
As straf moet hy nog drie ure per dag ekstra werk. “Hy sê dit leer ‘n mens baie geduld, want jy moet nou maar jou straf aanvaar, al is jy nie die skuldige een nie. Geen oor en weer gestryery of teëpratery word geduld nie.”
Protex en Dawn
Dusty was so bly om te hoor hy kon nou sy eie badkamerbenodigdhede by die Spar in Middleton gaan koop. Sy sê hy was nog altyd baie erg oor sy fisiese voorkoms. “Hy sê in Noupoort moes hulle met die minste klaarkom – ’n Protex-sepie en ‘n bottel Dawn-lyfroom. Maar hy het nooit daaroor gekla nie. Hy sê party mense het nie eers daardie voorreg om met seep te kan was nie. Hy kan nou weer gebruik waarvan hy hou.
“Ons het ook sy eerste pakkie vir hom gestuur met ‘n klomp sjokolade, koffie en koekies. In Noupoort mag hy glad nie koffie gedrink het nie, net tee. So ek glo hy gaan nou behoorlik opmaak vir al die koffie wat hy gemis het. Hy behoort vanaand sy pakkie te ontvang. Solank alles geseël is, mag ons so te sê enigiets vir hom stuur.

Hy sê die program is baie moeilik, maar sê ook dat geen ‘rehab’ lekker en gemaklik behoort te wees nie.”
Sy sê as mens hom vra oor die vorige rehabilitasiesentrums waar hy was, is sy woorde ‘nee wat, dit was luuksehotelle wat jou net vol pille stop’.”
Ellouise sê die Noupoort-rehabilitasiesentrum is presies wat hy nodig gehad het.



