Werkers van die Sol Plaatje-munisipaliteit het vanoggend onder toesig van die Kimberley-polisie ’n klomp shanties op munisipale grond in Marangstraat in Galeshewe afgebreek.
Inwoners was ontstoke. Hulle het klippe gegooi na werkers wat besig was om ’n shantie af te breek. Die polisie het rubberkoëls en stun grenades afgevuur om die situasie op te klaar.
Inwoners sê hulle het geen waarskuwing ontvang nie en hulle het nêrens heen om te gaan nie.
Gemeenskapslede het voor ’n laaigraaf ingeloop en voor ’n staalstruktuur gaan sit om te keer dat dit afgebreek word.
FiND iT het met ’n gemeenskapslid gesels wat by die oorblyfsels van ’n shantie gestaan het.
“Die eienaar van dié shantie is by die werk. Daar is niks oor nie. Ek het probeer keer dat hulle nie die ruite breek nie. Ek het gevra dat hulle my kans sal gee om die shantie uitmekaar te haal. Hulle wou niks daarvan weet nie en ek is in my been raak geskiet,” het ’n gemeenskapslid verduidelik.
Nog ’n gemeenskapslid het beweer dat die erwe aan familie en vriende van persone wat by die munisipaliteit werk, belowe is. Hy sê hy is bereid om vir die erf te betaal, maar op die einde van die dag gaan die erwe op tender uit en kan net mense wat baie geld het, dit bekostig. Hy sê hy glo die erwe gaan op tender geplaas word sodat ’n ontwikkelaar hier meenthuise kan bou om dit uit te verhuur.
Mpho Sereo, ’n gemeenskapsleier, sê hulle probeer al vir meer as twee maande met die munisipaliteit onderhandel. Hy sê raadslede het met fop-interdikte gekom om die inwoners uit te sit.
Sello Matsie, woordvoerder van die munisipaliteit, sê hulle het verskeie interdikte teen onwettige informele nedersettings verkry en het begin om dit uit te voer. Hy sê daar is alternatiewe woongebiede beskikbaar waarvoor mense aansoek kan doen.









































