108 Honde uit walglike toestande verwyder

ODENDAALSRUS – Die Virginia-DBV het 108 honde van ’n erf op Odendaalsrus verwyder.

Luidens ’n persverklaring deur die DBV het hulle ’n klagte ontvang oor ’n aantal honde wat by ’n dierebeskermingsorganisasie in ’n woongebied aangehou word. Die dierebeskermingsorganisasie is as ’n organisasie sonder winsoogmerk (OSW) geregistreer.

Inspekteurs was geskok toe hulle daar ondersoek instel. Sakke hondemis het in ’n ry gestaan toe hulle by die erf opdaag. Die honde het onder mekaar begin baklei vir die aandag van die besoekers. 

Inspekteurs het ’n Basset met maagsere in ’n verwaarloosde gebou gevind. Hy kon weens ’n abses nie beweeg nie. Sy toestand is so ernstig dat sy hele lyf geaffekteer is en hy het baie gestink.

’n Ou Labrador het op die koue sement in die hoek gelê. Hy kon waarskynlik weens artritis nie opstaan nie en het keer op keer geval wanneer hy probeer het. 

Die honde het aan veltoestande en oorinfeksies gely. Hulle het aanhoudend gekrap en hulle ore was opgeswel. ’n Groot Boerboel, met groeisels oor sy lyf en misvormde bene, is ook daar gekry.

Diere is op verskeie gedeeltes van die erf gevind. Inspekteurs het op ’n ontstellende toneel afgekom waar ’n vark besig was om te mis. Die vark het probeer om die honde te verdryf wat sy mis wou eet.

Die eienaar van die OSW het befondsing van die publiek ontvang, maar volgens die ondersoek is dit misbruik of nie reg bestee nie. 

Sommige van die diere moes weens pyn en lyding uitgesit word. Die ondersoek duur voort en ’n saak van dieremishandeling is geopen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *